News

Bekende oudpolisieman neem sy eie lewe

’n Bekende oudpolisieman van Middelburg, Gerhard Rheeder (76), het gister sy eie lewe geneem.

Mnr. Rheeder se vrou, Tersia, het vanoggend gesê dat hy die afgelope tyd baie depressief en angstig was en op ’n tydstip ook 10 dae behandeling in die Denmar Sentrum gekry het.

“Sy pille is verander en hy het baie angstig geword. Ons was verlede week weer by die psigiater en daar is weer vir hom pille gegee.”

Me. Rheeder het genoem dat hulle ’n tweede opinie wou kry en ’n afspraak is gemaak met ’n internis, wat hulle dié week Donderdag by die Unitas Hospitaal sou gaan sien.

Hulle sou more ry tot by haar seun, wat in Gauteng bly, daar oorslaap en dan die internis die volgende dag sien.
Gisteroggend het sy om 09:00 gou dorp toe gery om ’n paar goedjies te gaan koop.

“Hy het soos altyd vir my gesê: ‘ek is lief vir jou, sien jou netnou.”

Met haar terugkeer omstreeks 11:00 was hy reeds dood. Daar word verneem dat hy homself met ’n klein kaliber pistool om die lewe gebring het.

“Gerhard wou nie verder baklei nie. Die dokters kon hom nie gesond kry nie. Hy was moeg. Dalk sou die internis hom kon help.”

Die egpaar ken mekaar al 30 jaar en sou in April 24 jaar getroud gewees het.

“Gerhard en ek was soos vinkel en koljander. Ons kon nie sonder mekaar klaarkom nie. Hy was ’n goeie mens. Hy was spontaan en liefdevol. Ek kon nie vir ’n beter man gevra het nie.”

Mnr. Rheeder was vir 40 jaar ’n polisieman waar hy tot met sy aftrede ’n kaptein was by die logistieke afdeling.
Hy het die eiendom bestuur waar die Openbare Orde Polisiëring (ou Eenheid 7) geleë is en was ook die sekretaris van die offisierskantien.

Na sy aftrede het hy vir Wiley Harrington gewerk waar hy vir nog 13 jaar van hul eiendomme bestuur en koerierwerk gedoen het.
“Gerhard het vier jaar gelede eers finaal afgetree,” onthou me. Rheeder.

Hy word oorleef deur Tersia, kinders, kleinkinders en sy suster Naomi.

• Daar is nog nie begrafnisreëlings getref nie.

• Mnr. Rheeder se dogter, Ciretha, wat self as burgerlike vir die polisie gewerk het, is twee jaar gelede oorlede en familie onthou hoe hard dit hom getref het.

• Sy broer, Riaan, was jare gelede by die Middelburg Honde-Eenheid en is later Walvisbaai toe. Hy is in dié dorp deur ’n hekwag doodgeskiet.

• Sy pa, Gerhard, wat bekend was as Gerrie, was ook aan die polisie verbonde.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button