Vrou en agt maande oue baba verdwyn
’n Twintigjarige vrou en haar agt maande oue baba, wat net ’n hempie aanhet, het vanmiddag omstreeks 13:00 buite ’n besigheid in Bonckerstraat spoorloos verdwyn.
Maryna Taljaard en klein Dewald, het weg geraak toe sy gou na buite is om iets in die kar te gaan haal.
Volgens Juanita Groenewald, die ondervoorsitter van die Noodroep Radiogroep Sektor 3, is Maryna se man, Herculaas (ook bekend as Mongol) tans besig om ’n vermiste persoon-saak by die Middelburg Polisiestasie oop te maak.
Na wat verneem word het Maryna omstreeks 13:00 vir Herculaas gesê dat sy gou kar toe gaan om iets te gaan haal.
Sy het Dewald op haar heup gehad, maar omdat sy net gou iets sou gaan haal, het sy nie haar beursie, die baba se bottel of enigiets anders saam met haar gevat nie.
Herculaas het ’n kardeur hoor oopgaan en gewag dat sy moet terugkeer.
Minute later het hy gewonder waarom sy nie terugkom nie en het na haar gaan soek.
Hy het opgemerk dat hul voertuig nog daar staan, maar dat sy nie buite is nie en het reg rondom die besigheid begin soek.
Omstreeks 13:45 het hy vir Juanita gevra om op hul noodgroepe te vra dat mense op die uitkyk moet wees vir Maryna.
Nadat hulle die hele area gefynkam het, is Herculaas na die polisie waar hy tans nog besig is om die saak te open.
• Daar word gevra dat indien enige persoon weet waar Maryna haar moontlik kan bevind, om Sonya van Rooyen (haar niggie) te bel by 072 711 5701.
• Op noodgroepe word daar tans bespiegel of dit moontlik ’n ontvoering kan wees.