Nostalgie klap jou disnis oor Nols se foto
Daar in die tweede ry sit At Verster, ’n paar rye verder Leon van den Berg, en daar is polisieman Frik Breytenbach en ook Koot Viljoen, Eric Smuts, Ig Ferreira, Piet Cloete, Chris Maritz...
Name wat seker vir die meeste inwoners nie veel beteken nie.
Soos die naam Nols Spies.
Nols is die afgelope week aan ’n hartaanval oorlede op Sabie.
Sy seun, Johan, het ’n foto aangestuur van Nols en sy ma Annatjie en ook ’n foto van die 1977 senior reserwe span van Middelburg Rugbyklub wat die senior reserwe liga gewen het – die Flip Coetzer trofee. Nols het vir die span uitgedraf,
Wanneer jy deur die name gaan klap die nostalgie jou dat jy sterre sien.
Op ’n dag was hulle almal dorpshelde.
Later hulle merk gemaak in die gemeenskap soos At en Leon wat albei prokureurs geword het. At wat ook nie meer met ons is nie soos die afrigter van daardie span, Renier van Rensburg.
Die man na wie die trofee vernoem is, Flip Coetzer, was die markmeester op Witbank en eerste president van Suidoos-Transvaal Rugby-unie.
Die stoutste ou in die span was ook die kaptein, At Verster.
Miskien vergeet ons te gou ons mense, op ’n tyd was hulle almal “ons mense”.
Nols se afskeidsdiens is Saterdag om 11:00 uit die Hervormde Moedergemeente op die hoek van Bhimy Damane- en Lilian Ngoyistraat.