Skoolhoof se dogter in ernstige ongeluk
Die skoolhoof van Laerskool Kanonkop, mnr. Riaan Kruger, se dogter, Lynique (21), was Saterdagaand in ’n ernstige motorongeluk in die Kaap betrokke.
Terwyl sy haar dogter ondersteun in die hospitaal, het Lynique se ma, Angelique, vertel van die traumatiese gebeure.
“Ek was Sondagoggend omstreeks 05:30 besig om te bid toe Riaan die boodskap kry dat sy in die ongeluk was. Ons het toe eers gesien dat ons talle oproepe gemis het, want ons sit in die nagte ons selfone af.”
Me. Kruger sê Lynique sou Maandag in Kampsbaai begin werk het vir ’n vrou wat boeke skryf en resensies doen en het afgery na Durbanville, waar sy voortaan gaan bly.
Saterdag het sy saam met ’n vriend van haar gaan kuier en hulle was die aand op pad huis toe toe die ongeluk gebeur het.
Die presiese omstandighede van die ongeluk is onduidelik, want Lynique kan niks van die ongeluk onthou nie.
Dit het egter net etlike meters vanaf die plek waar Lynique sou gebly het, plaasgevind.
Me. Kruger weet die karretjie, wat bestuur is deur Lynique se vriend, het ’n betonmuur getref en die voertuig is ook deur ’n ander muur, terwyl dit gerol het.
Beide die jongmense moes deur die brandweer met die kake-van-lewe uit die kar gesny word.
Weens die ernstige aard van haar beserings het Lynique op ’n stadium nie geweet wie sy is nie.
Die ambulans- en hospitaalpersoneel kon ook nie haar mediese kaart by haar kry nie.
Sy is by ’n kliniek in Durbanville gestabiliseer en oorgeplaas na die Tygerberg Provinsiale Hospitaal.
Die jongman, sy naam is nie bekend nie, is in die Chris Barnard Hospitaal se intensiewe eenheid opgeneem, waar hy onder andere vir bloeding op die brein, bors- en ribbeserings, asook beserings aan sy niere, behandel word.
In haar deurmekaar toestand het Lynique haar broer se vriendin se nommer gebel, waarop die Kruger-egpaar begin navraag doen het in watter hospitaal Lynique is.
Me. Kruger het Sondag deurgevlieg Kaap toe waar sy Lynique nog in die Tygerberg Hospitaal gevind het.
Sy het van daar af met die hulp van hul mediese fonds reëlings getref dat sy na die Cape Gate Kliniek in Belville oorgeplaas word.
Daar is al talle skanderings van Lynique geneem, aangesien die regterkant van haar lyf baie seer gekry het.
Me. Kruger sê die ernstigste besering is haar pelvis wat op drie plekke gebreek is. Lynique word more geopereer, waartydens die breuke met plate geheg sal word.
“Sy is in baie pyn en sien uit daarna dat die dokters opereer om die pyn te verlig.”
Me. Kruger het genoem dat daar kort na die operasie met rehabilitasie begin sal word, aangesien sy weer van voor af sal moet leer loop.
• Lynique is ’n oudleerling van HTS Middelburg en het haar studies in 2023 aan Noordwes Universiteit voltooi. Sy vier op 9 Februarie haar 22ste verjaardag.
• Die Kruger-familie wil graag die personeel en leerlinge van Laerskool Kanonkop, asook die hele Middelburg gemeenskap bedank vir hul gebede en ondersteuning.
• Mnr. Kruger vlieg vandag Kaap toe, aangesien die skole Maandag begin het en hy eers die leisels aan die gang moes kry by die skool.