News

Grondpad knou toerisme

Die haglike toestand van die Dewagendriftpad, ’n 10km stuk pad tussen die N11 ná Middelburg en die Maleoskoppad, het ’n geweldige negatiewe impak op toerisme.

Mbidi Lodge se ou-karskou is gekanselleer weens die haglike toestand van die pad.

Volgens mnr. Frikkie Tolmay, Mbidi Lodge bestuurder, is die karskou gestaak weens die veteraan voertuie se enjins wat te warm geword het omdat daar heeltyd gestop moes word vir slaggate.

“Behalwe vir dit, is daar ook klippies wat opskiet en skade aan die voertuie se verfwerk aanrig. Die probleem is dat hierdie antieke karre se kleur verf nie meer so maklik verkrygbaar is nie.”

Mnr. Tolmay sê dat besoekers aan die lodge skade opgedoen het aan hul voertuie weens slaggate op die pad. “Veral bande word beskadig. Ek het self al vier bande verloor tussen Mbidi Lodge en Dikwena Lodge, ten spyte dat mens hoe versigtig ry.”

Die toestand van die pad is natuurlik ook erger wanneer dit reën, aangesien die slaggate nie gesien kan word nie.

“Dié pad het ’n wesenlike uitwerking op besigheid in die omgewing en ’n groot invloed op toerisme.”

Ruby River Resort, wat op die Maleoskoppad geleë is, se hoofroete vanaf Middelburg is die Dewagendriftpad, indien hierdie pad vermy word kan padgebruikers Groblersdal om ry, maar dit is 30km verder.

Mnr. Henk Swart, eienaar van Ruby River Resort, sê dat die toestand van die pad ’n geweldige impak het op hul sake en dat hulle ’n opname gemaak het nadat hul ’n afname opgemerk het in besoekers. Daar was ’n 95% afname van karavane en bote en ’n 60% afname in persone wat kleiner voertuie ry.

“Elke Desember sit ons 50 kampplekke uit, hierdie Desember was daar slegs agt kampeerders,” vertel mnr. Swart.

Mnr. Swart woon self in Middelburg en sê dat indien hy nie ’n bakkie of groter voertuig gebruik om Ruby River Resort te besoek nie, hy maar die 30km ekstra aandurf om deur Groblersdal te ry weens die Dewagendriftpad wat meer grondpad is as teer.

Mnr. Leon Olckers, Dewagendrift Boerdery, sê dat die pad ’n groot impak het op hul plaasvoertuie wat beskadig word.

“Dit is vir ons ook baie vernederend om besoekers te ontvang by die plaas en hul moet van hierdie slegte pad gebruik maak. Daar word niks aan die pad gedoen nie, instansies en boere in die omgewing het dit op hulself geneem om die slaggate op te vul met grond, maar dit hou nooit lank nie, dan lyk die pad weer sleg,” sê mnr. Olckers.

Verskeie klagtes is al gerig aan die Elias Motsoaledi Plaaslike Munisipaliteit oor die toestand van die pad, asook die padagentskap van Limpopo, maar sonder sukses.

Back to top button