Voormalige polisieman gearresteer
’n Voormalige polisieman (58) is gearresteer nadat polisielede vermeende gesteelde voertuie, sleepwaens en ander eiendomme tydens ’n operasie teruggevind het.
Groblersdal se misdaadvoorkomingslede, lede van die voertuigmisdaadondersoekeenheid, Groblersdal Landelike Veiligheid, Groblersdal Buurtwag en privaat sekuriteitsmaatskappye het hierdie operasie Maandag uitgevoer in Groblersdal en Dennilton.
Volgens kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder, het die span gefokus op gesteelde voertuie. “Die span het gesteelde eiendom teruggevind by ’n pakhuis en begrafnisondernemer in Dennilton, insluitend ’n voertuig in Waterbokstraat in Groblersdal.”
Die items waarop beslag gelê is, is ’n Hyundai H1-minibus wat gedurende 2021 by Mondeor-polisiestasie gesteel aangemeld is, ’n Mercedes Benz Vito-minibus wat gedurende September 2023 by Boipatong polisiestasie as gesteel aangemeld is, ’n platdeksleepwa met nommers afgeslyp, Ford Ranger enkelkajuit wat as gesteel aangemeld is by Vaalbank polisiestasie in Desember 2023, ’n Totyota Fortuner met onderstel/enjinnommer afgeslyp en herstempel, yskassleepwa met geen etikette en nommer afgeslyp en ’n platdeksleepwa met geen etikette en onderstelnommer afgeslyp.
’n 58-jarige voormalige polisieman en eienaar van ’n pakhuis en begrafnisondernemer is in hegtenis geneem.
Die provinsiale kommissaris van Limpopo SAPD, luitenant-generaal Thembi Hadebe, het die span geloof vir die terugvind van die gesteelde voertuie en die inhegtenisneming van die verdagte.
“Hierdie arrestasie sal baie van ons probleme met betrekking tot voertuigsmokkelary en diefstal oplos. Ons sal seker maak dat ander persone wat deel vorm van hierdie sindikaat ook vasgetrek word,” het luitenant-generaal Hadebe gesê.
Die verdagte sal binnekort in die hof verskyn.