News

Bejaarde oud-landdros glo aangerand tydens drama by hof

Die Bittereinders se Francois van der Merwe sal die volgende sewe dae in aanhouding bly tot sy formele borgaansoek Donderdag, 1 Februarie 2024.

Weens die feit dat Van der Merwe reeds op aanklag van aanranding in Pretoria terregstaan na ’n beweerde kroeggeveg, is die borgverrigtinge uitgestel na volgende week.
Hy het vlugtig in die hof verskyn op klagtes van aanranding.

Van der Merwe is gisteraand hospitaal toe vervoer na sy arrestasie buite die Groblersdal Landdroshof gister, nadat polisielede en verkeersmanne betrokke by die arrestasie na bewering onder meer herhaaldelik op sy kop getrap en hom ook geskop het terwyl hy op die grond was.

Minstens sewe polisielede en twee verkeersmanne was by die arrestasie betrokke nadat Van der Merwe glo nie gehoor gegee het aan die polisie se opdrag om die onmiddelike omgewing om die hof te verlaat nie.

Van der Merwe en honderde boere van Limpopo het na die hof toe opgeruk om Piet Groenewald en sy seun Stephan Greeff buite die hof te ondersteun, nadat pa en seun laasweek gearresteer is vir die beweerde aanranding van ’n werknemer op Groenewald se plaas.

Die Bittereinders se Francois van der Merwe. Foto: Facebook/Bittereinders.

Die optog was vooraf deur die polisie goedgekeur.

Ooggetuies sê egter Van der Merwe het bloot tussenbeide getree toe die polisie begin het om die bejaarde Dries Olivier (76), ’n oud-landdros van Groblersdal, rond te stamp toe die polisie die boere se optog verby die hof skielik geweier het, ten spyte van vroeëre goedkeuring.

Olivier en sewe ander klaers was vir ure by die polisiestasie waar hulle gepoog het om aanrandings klagtes teen die betrokke polisielede oop te maak.

Mnr. Olivier se verklaring is geneem, en daar is begin met ’n tweede klaer se verklaring, wat nie voltooi is nie, omdat die polisie skielik geweier het om verdere verklarings te neem.
Die polisie het verder aan die klaers gesê dat net een dossier geopen sal word.

Van der Merwe is onder meer behandel vir harsingskudding by ’n staatshospitaal in Hlogotlou.

Polisielede het aanvanklik teen mediese behandeling vasgeskop, maar eindelaaste ingestem.

Hy is na middernag eers weer terugvervoer selle toe, waar hy tot volgende Donderdag in aanhouding sal bly.

Groenewald en Greeff se formele borgaansoek sal volgende Woensdag voortgesit word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button