News

Polisie omsingel hof vir Bittereinder se borgaansoek in Groblersdal

Die polisie het vanoggend roetes om die landdroshof versper vir Francois van der Merwe se borgaansoek.

Die Bittereinders jeugbeweging se Francois van der Merwe wat gister gearresteer is tydens protesaksie by die Groblersdal Landdroshof ter ondersteuning van Piet Groenewald en sy seun Stephan Greeff sal binnekort in die hof daar verskyn vir ’n borgaansoek.

Van der Merwe is gearresteer nadat hy die afgesperde gebied buite die hof oortree het.

’n Groep van minstens sewe polisiemanne en twee verkeersmanne het op Van der Merwe toegesak toe hy verby die kegels wat polisie voor die hof geplaas het, beweeg het.
Ooggetuies sê hy is onnodiglik hardhandig behandel en selfs grond toe gedwing waar hy na bewering ook geskop is.

Verskeie teenklagtes van aanranding is na Van der Merwe se arrestasie teen die betrokke polisielede gelê.

Gemoerdere het opgevlam nadat die polisie ’n vroeëre belofte dat Van der Merwe by ’n Sasol vulstasie weg van die hof af vrygelaat sou word, verbreek het.

Die polisie het vroegmore weer die roetes om die landdroshof versper en streng toegangsbeheer sal weer toegepas word, soos met gister se verskyning van Groenewald en Greeff wat van aanranding met die opset om ernstig te beseer verskyn het, na hul arrestasie verlede Donderdag op Groenewald se plaas.

’n Werknemer in diens van Groenewald se Wildlife Investigation and Protection Services, wat net vyf dae in diens van die veiligheidsmaatskappy was, beweer dat Groenewald hom beskuldig het van dronkenskap aan diens en tydens ’n konfrontasie met ’n swaar voorwerp teen die kop geslaan het.

Greef het na bewering daarna op instruksie van Groenewald een van die maatskappy se veiligheidshonde op die man losgelaat.
Die wag beweer voorts dat hy na die honde aanval met ’n onbekende vloeistof ingespuit is.

Hy het oppervlakkige bytwonde in die voorval opgedoen.

Die staat het tot dusver twee maal aan die klagtes teen Groenewald en Greeff verander.

Hulle is aanvanklik gearresteer vir aanranding, waarna die klag na poging tot moord toe opgegradeer is maar tydens hul verskyning gister, weer afwaarts aangepas is na aanranding met die opset om ernstig te beseer, ’n skedule een misdryf.

Die ondersoekbeampte in die saak, met minder as twee jaar polisie ervaring, het getuig dat beide in aanhouding moet bly vir hul eie veiligheid.

Groenewald en Greeff se borgaansoek sal Woensdag volgende week hervat word nadat tyd die verrigtinge ingehaal het, omdat die hof eers na middagete tot sitting gekom het.

Van der Merwe was in Groblersdal om teen Groenewald en Greeff se aanhouding te betoog.

Back to top button