Man wat op treinspoor gekry is was ’n bekende rugby afrigter
Die man wat vanoggend dood gekry is op die spoorlyn naby die Rondebosch plotte was ’n bekende rugby afrigter wat by verskeie skole, onder andere Steelcrest High School, gewerk het.

Me. Clara van Niekerk het vanmiddag bevestig haar seun, Reinhardt (ook bekend as Rey) van Niekerk (45), is gisteraand omstreeks 11:00 by die huis weg naby die spoorlyn “om te gaan stap sodat hy sy kop kon skoon kry”. Hy was die afgelope tyd baie depressief.
Me. Van Niekerk het vanoggend die berig gesien van ’n persoon wat in die vroeë oggendure dood op die spoorlyn gekry is.
Die treindrywer van Rovos Rail het gesê dat die persoon op die spoorlyn gelê het en nie gereageer het toe hy die waarskuwing treinfluit getrek het nie.
Alle pogings om die trein betyds te stop het gefaal en die persoon is getref.
Die voorste bosbrekerplaat aan die voorkant van die trein het die persoon weg geslinger van die spoorlyn af en hy het weens die impak gesterf.
Me. Van Niekerk het ’n joernalis van die Middelburg Observer vanmiddag gebel en gesê sy glo dit is haar seun Reinhardt.
“Ek bly in een van die eenhede op Nic Smith se plot en Reinhardt het gisteraand gesê hy gaan net ’n entjie stap om sy kop skoon te kry. Ek het die deur oopgelos dat hy kan inkom. Hy het nooit teruggekom nie.”
Me. Van Niekerk het genoem dat hy oorsee was, maar met sy terugkeer by haar gebly het.
Sy het gevra of hy ’n rooi hemp aangehad het met ’n Springbok-embleem daarop en daar is verneem dat die persoon wat gisteraand gesterf het, wel ’n rooi hemp met ’n Springbok-embleem daarop aangehad het.

Me. Van Niekerk het die forensiese afdeling gekontak om te gaan kyk of sy die persoon kan gaan uitken of dit wel haar seun is en sy meegedeel is dat sy more kan inkom om die persoon uit te ken.
Reinhardt was geskei en laat onder andere ook twee kinders en sy broer Nicky (As komediant bekend as Nicky Van) agter.
Sy pa, Nick, was ’n Springbok snoekerspeler wat ’n paar jaar gelede oorlede is.
Hy het onder andere by die Murray Mexted rugby afrigtingskool opleiding gekry en was passievol oor rugby.
’n Paar jaar gelede het hy het “RugbyTool” begin wat rugbyklinieke aangebied het.