Afriforum kap na “onbetroubare” aanklaers, landdroste in Groblersdal
Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste Ronald Lamola, het oomblikke gelede ’n memorandum van verstandhouding onderteken wat deur Afriforum oorhandig is.
Die oorhandiging is gedoen tydens die borgverrigtinge van Piet Groenewald en sy seun Stephan Greeff, wat vandag in die Groblersdal Landdroshof voortgesit word.
Daar word gevra word vir ’n gemeenskapvergadering met Groblersdal se aanklaers en landdroste, wat Afriforum meen, deur die gemeenskap wantrou word.
Volgens die memorandum het die gemeenskap Afriforum genader weens toenemende misdaad in Groblersdal, wat die burgerregte organisasie genoop het om ’n Afriforum-tak op die dorp op die been te bring.
In die memorandum dring Afriforum aan op ’n gemeenskapsvergadering binne die volgende twee maande.
Afriforum eis dat aanklaers en landdroste ook met ’n aksieplan vorendag sal kom, om die groeiende misdaadprobleem aan te spreek.
Die organisasie het op 19 Januarie dieselfde memorandum aan die hof daar oorhandig, maar tot dusver geen terugvoer ontvang nie.
“Die mense van Groblersdal is nie oortuig dat die landdroshof reg funksioneer nie,” lui die skrywe wat deur Lamola onderteken is.
Volgens Afriforum word inwoners gereeld omgeboul deur hofbesluite, en heers daar ’n algemene gevoel dat die howe nie effektief verdere misdaad voorkom nie.
“Lagwekkende verskonings” word volgens Afriforum opgedis vir gebrekkige hofbesluite, wat vertroue in die Limpopo regstelsel verder wegkalwe.
Minister Lamola het nie dadelik op die memorandum se bewerings gereageer nie.
Hy is saam met polisie minister Bheki Cele in die hof vandag, nadat die Groblersdal polisie nasionale versterkings aangevra het.
Die ANC het ook skielik opgeruk na die landdroshof vandag, waar Groenewald en Greeff se borgaansoek tans oorweeg word.
Die ondersoekbeampte in die aanrandingsaak teen die duo, word tans ondervra.