Nog ’n week agter tralies vir Groenewald en Greeff
Die twee beskuldigdes wat teregstaan vir die beweerde aanranding en honde-aanval op ’n sekuritietswag op ’n plaas in Groblersdal, sal vir die derde week in aanhouding bly nadat die borgaansoek tot 7 Februarie uitgestel is.
Die landdros wat oor borg vir Piet Groenewald en sy seun Stephan Greeff moet beslis, soek meer inligting van beide die staat en verdediging voordat uitspraak gelewer word.
Dit sal die mans se derde volle week in aanhouding wees op die skedule een misdryf, aanranding met die opset om ernstig te beseer.
In Groenewald se verklaring sê hy dat die beweerde slagoffer met ’n panga en piksteel by die Wildlife Investigation and Protection Services kantore op Groenewald se plaas opgedaag het, nadat hy vroeër berispe is vir alkoholmisbruik aan diens.
Die wag was net vyf dae in diens van die sekureiteitsonderneming voordat hy glo besope vir werk opgedaag het.
Die beweerde slagoffer het die piksteel na Groenewald gegooi, maar ’n hond in die proses getref.
Groenewald het die piksteel opgetel en na die wag gestap, wat steeds met die panga gewapen was.
Volgens Groenewald het ’n opgeleide sekuriteitshond, wat deur Greeff hanteer is, losgebreek en die wag toe aan die onderbene gebyt.
Daar word beweer hy het oppervlakkige bytwonde opgedoen waarna Greeff hom ’n klem-in-die-kaak inspuiting toegedien het.
Die wag is toe vir behandeling geneem waartydens die wonde skoongemaak en verbind is.
Hy het egter nie vir opvolg behandeling opgedaag nie.
Beide Groenewald en Greeff is sedert hul arrestasie op 18 Januarie in aanhouding.
Die ministers van polisie en justisie, Bheki Cele en Ronald Lamola, was beide vandag by die hof waar betogings deur die EFF en ANC buite die hof voortgegaan het onder streng polisiebewaking.
Die saak word deur ’n junior polisiebeampte met minder as twee jaar speurervaring ondersoek.
Die ondersoekbeampte het vandag onder kruisverhoor erken dat hy na twee weke nog nie CCTV-beeldmateriaal van die aanval bekom het nie.
Vier EFF-lede wat twee weke gelede vir opstoking van openbare geweld gearresteer is, is verlede week elk op R1000 borg vrygelaat.