Ondersoekbeampte trap klei oor CCTV-materiaal, beserings
Borg word geopponeer omdat getuies vrees vir hulle lewe en doodsdreigemente teen Groenewald en Greeff gemaak is.
Die ondersoekbeampte in die Groblersdal aanrandingsaak teen Piet Groenewald en sy seun Stephan Greeff, konstabel Maleasenya, hamer tans nog tydens ondervraging daarop dat beide in aanhouding moet bly, omdat ander werknemers van Groenewald se Wildlife Protections and Investigation Services (Wips) vrees vir hulle werk en lewens, omdat hulle “getuies is.”
Die ondersoekbeampte eis dat Groenewald en Greeff in aanhouding bly, en nie op borg vir die skedule een misdryf van aanranding met die opset om ernstig te beseer, vrygelaat moet word nie, omdat getuies teen Groenewald en Greeff op Groenewald se plaas woon en werk.
Die getuies waaroor die ondersoekbeampte egter getuig, is nie bekend aan die beskuldigdes nie.
Die ondersoekbeampte hou ook vol dat Groenewald en Greeff self in gevaar is en veiliger agter tralies sal wees.
Hy het getuig dat verskeie doodsdreigemente reeds teen Groenewald en Greeff gemaak is, maar dat diegene wat die blatante dreigemente gemaak het nie gearresteer kon word nie, omdat hy alleen was en die polisie glo nie die nodige mannekrag het om hom in sy werk as geregsdienaar te ondersteun nie.
Vier EFF-lede is wel voorverlede Vrydag gearresteer vir die aanhitsing tot openbare geweld.
Hulle is intussen elk op R1000 borg vrygelaat.
Groenewald en Greeff ontken dat hulle onveilig sou voel indien borg toegestaan sou word.
Volgens die ondersoekbeampte het bywoners op Groenewald se plaas reeds die grond verlaat uit vrees, nadat een deur twee Wips werkers “ontvoer is”.
Die getuie het egter erken dat hy later ongedeerd weer terug geneem is, maar vrywilliglik die plaas verlaat het.
Die ondersoekbeampte het intussen getuig dat daar CCTV kameras op die plaas is, wat die aanval waarskynlik opgeneem het, maar dat hy eers more die moeite sal doen om die beeldmateriaal te bekom.
Groenewald en Greef se regsverteenwoordiger het in die hof aangedui dat die slagoffer na die honde-aanval ’n klem-in-die-kaak inspuiting toegedien is deur Greeff wat ’n opgeleide paramedikus is.
Die ondersoekbeampte het voorts onder kruisondervraging erken dat die bytwonde in die hospitaal skoongemaak en verbind is, waarna die slagoffer ontslaan is.
Die slagoffer het ook nie die volgende dag vir opvolg behandeling gegaan nie.