Strydom verkoop skape, lewe luuks en verdwyn weer
Die voortvlugtende Marthinus Pretorius (Boeries) Strydom lewe ’n luukse lewe aan die Weskus waar hy inwoners met verskeie skelmstreke die harnas ingejaag het.

Hy het onder andere skaapkarkasse verkwansel, die geld in sy sak gesteek en dan nooit die produkte gelewer nie. Eers nadat hy met die polisie gedreig is het hy die geld terugbetaal.
Hy het ook nie huur betaal nie en het intussen van Paternoster af verdwyn en bevind hom waarskynlik in Langebaan.
Mike Bolhuis se Specialized Security Services is steeds op soek na “Klein Boerie” Strydom, wat November laasjaar nog in ’n huurhuis op Paternoster gebly het, voordat hy weer oornag soos mis voor die son verdwyn het.
’n Voormalige plaaslike inwoner en sakeman sê dat hy in November nog ’n bier in Paternoster saam met Strydom geniet het.
Strydom hang vermoedelik in die Wes-Kaap rond omdat sy kinders in ’n skoolkoshuis in Piketberg is, en hy naby aan hulle wil wees.
Klagtes is intussen ook in Paternoster deur ’n eiendomsagent teen Strydom gelê omdat hy nie huur betaal het vir die luukse huis waarin hy en sy vrou tuis gegaan het.
Hy het die huis betrek nadat hy glo ook oornag uit ’n luukse eiendom in Bekbaai getrek het weens onbetaalde huur.
Strydom word onder meer op lasbriewe vir sy inhegtenisname in verskeie provinsies gesoek vir bedrog.
Die bron, wat verkies om anoniem te bly, sê Strydom het ’n “onmiddellike reaksie” getoon toe hy gehoor het die man kom van Middelburg af.
“Sy oë het dadelik gerek en die gesprek het ’n ongemaklike wending geneem,” sê die bron.
Strydom is onder ’n wolk uit Middelburg uit weg Kaap toe, nadat hy die legendariese Rembrandt Kafee in net vyf weke tot ’n leë dop bestuur het.
Hy het die kafee by die familie van wyle Elec Politis gekoop, maar nooit betaal nie.
Hy het ook al die kafee se toerusting en inhoud verkoop, terwyl hy staande bestellings vir aflewering aanvaar het.
Die Politis familie moes naas die verlies van die koop, ook die rekeninge vir aflewerings vereffen.
Daarna het Strydom na bewering slagoffers op Facebook genader met beloftes van diesel teen winskooppryse.
Hy het betalings ontvang maar nooit die diesel gelewer nie.
Wat egter stomslaan is die luukse lewe wat Strydom lei, met minstens drie duur voertuie in sy besit.
Foto’s van die voertuie is intussen aan die koerant verskaf met die hoop dat dit dalk tot sy arrestasie kan lei.
Die foto’s is intussen aan Bolhuis en sy span aangestuur.