Staat vra vir uitstel in Bittereinder se borgaansoek
Die staat pleit vir uitstel in die formele borgaansoek van die Bittereinders se Francois van der Merwe in die Groblersdal Landdroshof, waar hy tans teregstaan op ’n klag van aanranding.

Van der Merwe word ook daarvan beskuldig dat hy ingemeng het met die polisie se taak om wet en orde te handhaaf tydens die borgverhoor van Piet Groenewald en Stephan Greeff voorverlede week.
Volgens die aanklaer sal twee nuwe klagtes van aanhitsing tot openbare geweld en die versuim om te voldoen aan regulasies tydens opebare protes, bygevoeg word.
Van der Merwe is deur ’n groep van minstens sewe polisiemanne en twee verkeersmanne gearresteer nadat hy glo in die bresse getree het vir die bejaarde oud-burgemeester Dries Olivier (76), tydens ’n vreedsame optog buite die hof tydens ’n vroeëre verskyning van Groenewald en Greeff.
Olivier, wat toestemming vir die optog bekom het, is na bewering deur polisielede rondgestamp nadat hy navraag by die uniformdraers gaan doen het oor waarom hulle verhoed word om die optog verby die hof te lei.
Van der Merwe het hom te hulp gesnel waarna hy gearresteer is.

Tydens sy arrestasie is hy hard grond toe gedwing en na bewering deur die polisielede en verkeersmanne geskop en geslaan.
Hy is volgens ooggetuies verskeie maal teen die kop geskop en daar is ook op sy kop getrap.
Hy is die aand van sy arrestasie hospitaal toe geneem waar hy behandeling vir kneusplekke en harsingskudding ontvang het voordat hy weer toegesluit is.
Hy was reeds sewe dae agter tralies nadat sy borgaansoek verlede Vrydag uitgestel is tot vandag.
Volgens die aanklaer moet die borgaansoek uitgestel word vir verdere ondersoek omdat ander persone in Van der Merwe en Olivier se groep glo ook gearresteer kan word.
Wie hulle is kan die aanklaer egter nie sê nie.
Van der Merwe se regsverteenwoordiger, Wayne Gibbs, sê dat die borgaansoek aangehoor moet word ondanks moontlike nuwe klagtes.
Die hof sit nou weer na middagete.
Van der Merwe is soos Groenewald en Greeff met boeie die hof ingelei.