News

Jong pa doodgeskiet – De Klerk weer in hof

Die man wat aangekla word na die skietdood van ’n jong pa, Gerhard Coetzer, in April 2018, het vandag vlugtig in die hof verskyn.

Phillip Rudolph de Klerk is eers aangekeer nadat Afriforum se privaat vervolgingsgesag die saak laat hersien het.

Gerhard is op 27 April daardie jaar tussen partytjiegangers in Walter Sisulustraat doodgeskiet.
Sy seuntjie, Ronaldo, toe net drie jaar oud, het alles sien gebeur.

Na die voorval is daar op die toneel gesê dat rowers op hom los gebrand het.

Sy vrou, Bianca, het egter kort daarna onthul dat dit nie die geval was nie, maar dat ’n persoon by die partytjie met ’n wapen gespeel het.

Mnr. Gerhard Coetzer se moordtoneel.

’n Skoot het afgegaan en is deur ’n buitekamer venster.
Die tweede skoot het Gerhard getref, wat net etlike treë geloop, geval en gesterf het.

Sy het destyds gesê dat die persoon wat vir haar man se dood verantwoordelik was, gesê het sy moet jok oor wat gebeur het.

Volgens haar het hy gesê hy sal sorg vir haar en haar kinders as sy sou sê rowers het hom geskiet.
Sy het ook beweer dat hy gedreig het dat as sy dit nie doen nie, dat hy sal sê sy het haar man geskiet.

Gerhard Coetzer en sy seuntjie, Ronaldo.

Met die polisie se aankoms op die toneel, was die vuurwapen reeds weg.

’n Persoon, wat by die partytjie was, het ook weg gery van die toneel af en later terug gekom.

Na die gebeure het ’n Middelburg Observer joernalis ’n dag of twee later met De Klerk gaan praat oor die voorval en het hy ook volgehou dat dit ’n rower was wat vir Gerhard geskiet het.

In November 2023 is De Klerk gearresteer en op 16 November het hy die eerste keer in die hof verskyn. Tydens sy vorige verskyning in Desember, is die saak uitgestel na die streekhof.

• Die saak is vandag weer uitgestel na ’n later datum hierdie maand vir afskrifte van die dossier.
De Klerk bly in aanhouding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button