Kyk: Eerste sien van wag se beserings na beweerde aanval op WIPS plaas
Alle oë sal die week weer op Groblersdal wees waar Piet Groenewald en sy seun Stephan Greeff weer Woensdag in die beskuldigdebank sal inskuif met die hoop dat borg na drie weke in aanhouding eindelaaste aan hulle toegestaan sal word.

Pa en seun staan tereg op ’n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer na ’n geskil met ’n werknemer op Groenewald se plaas.
Veneruru Kavari, wat net vyf dae in diens was van Groenewald se Wildlife Investigation and Protection Services, beweer dat hy met ’n harde voorwerp oor die kop geslaan is, deur ’n hond gebyt en daarna ook met ’n vreemde vloeistof ingespruit is.
Groenewald en Greeff sê Kavari was dronk aan diens, en het hulle met ’n piksteel en panga gedreig toe hy oor sy drinkery aangespreek is.
Groenewald sê Kavari het hom met die piksteel gegooi, wat hom gemis, maar die hond getref het voordat die dier losgebreek het.
Die aanval is onmiddellik deur die hond se hanteerder gestaak, waarna Kavari glo ’n klem-in-die-kaak inspuiting toegedien is vir die wonde aan sy onderbene.

Terwyl kort beeldmateriaal van die sekondes voor die hond se aanval op Kavari vrygestel is, wonder almal hoe ernstig Kavari in die aanval beseer is.
In ’n video na die aanval wat skynbaar deur Kavari self geneem is, kan die beserings gesien word.
Die klag van poging tot moord is teen die beskuldigdes laat vaar met die herinstelling van aanvanklike klag van aanranding met die opset.
Vroeëre borgverrigtinge het skerp kritiek ontlok nadat daar op ’n stadium in die hof getuig is dat Kavari se beserings so grusaam was, dat dit eerder gelyk het na ’n leeu-aanval.
Die borgaansoek is tot Woensdag uitgestel nadat die landdros meer inligting van beide die staat en verdediging versoek het.
Kavari wie se beserings by ’n hospitaal skoon gemaak en verbind is, het nie opgedaag vir opvolg mediese behandeling nie.
https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7332065879586393350