News

Steve Hofmeyr se seun in bitter twis met Bittereinders

Devon Hofmeyr is voorlopig uit die Bittereinders geskors.

Die Bittereinders se voortbestaan sit tussen die boom en die bas met een van sy twee stigterslede en direkteure, Francois van der Merwe agter tralies, en die ander Devon Hofmeyr (sanger Steve Hofmeyr se seun), wat voorlopig uit die beweging geskors is na ’n beweerde “gekuier” by ’n getroude vrou wie se man na bewering saam met Van der Merwe in Groblersdal in aanhouding is.

Hofmeyr word verder van ’n gekonkel met die diamant smous Louis Liebenberg beskuldig, wat ook in Groblersdal opgedaag het ter ondersteuning van Piet Groenewald, Stephan Greeff en Van der Merwe.

Volgens ’n Sondagblad het Hofmeyr saam met Annelien Greeff gebraai en selfs in dieselfde huis oogeslaap.
Hofmeyr ontken dit.

Groenewald en Greeff se arrestasies spruit uit ’n beweerde aanrading van ’n werker op Groenewald se plaas.

Hormeyr het kennis geneem van sy skorsing met ’n plasing wat lees: “Ek lees van die struwelinge. Ek is die laaste om hiervan te weet. Ek plaas my verklaring binnekort.”

Volgens die Bittereinders se aankondiging “bevind die jeugbeweging hom in ’n ongemaklike posisie waar hy geen ander opsie het om Hofmeyr voorlopig te skors, tot tyd en wyl sy direkteur Van der Merwe, uit die gevangenis vry is om deel te neem aan ’n finale besluit nie.”

Diegene agter die plasing sê dat Hofmeyr se “kuier” by ’n getroude vrou, en die oorslaap in dieselfde huis, onaanvaarbaar is, hetsy seksuele dade plaasgevind het of nie.
Volgens die plasing is die Bittereinders se “etiese en morele waardes van so aard” dat Hofmeyr se gekuier by Greeff se vrou, “onwelvoeglik en onaanvaarbaar is.”

Bittereinders het “haar” ook ten sterkste teen Liebenberg se betrokkenheid by Bittereinders se toekomstige protesaksies in Groblersdal gedistansieer.
Die Bittereinders, waarna daar deurlopend in die plasing as “sy” en “haar” verwys word, eis verder ’n ondersoek na Hofmeyr se koukus met die “ponzi-baas.”

Die Bittereinder “volkie” is so verdeel deur Hofmeyr se skorsing dat talle gesê het hulle breek summier verdere bande, met dreigemente van debietorder kansellasies deur talle. Hofmeyr verwys skynbaar na “struwelinge” weens die skeuring wat dreig.

In ’n latere plasing op sy eie Facebook profiel het Hofmeyr gesê hy is teleurgesteld oor die beeld wat uitgestuur word dat boere nie kan saamstaan nie.
Hy sê hy’s betrek by ’n “ongure” berig deur “aanspraakmakers op die troon,” en het onder meer vinger na Willem Petzer en Tewie Wessels gewys.

Van der Merwe het in die hof aangevoer dat hy minder as R5000 in sy rol as Bittereinder direkteur verdien.
Dis onduidelik of Hofmeyr enige munt slaan uit die beweging.

Foto’s wat tydens Van der Merwe se laaste hofverskyning geneem is, wys hoe Hofmeyr uitdrukkingloos agter Van der Merwe in die hofgallery sit.

Van der Merwe word onder meer van opsweping tot openbare geweld aangekla, na ’n konfrontasie met polisie buite die hof tydens Groenewald en Greeff se hofverskyning voorvelede week.

Hofmeyr het die gerugte oor hom as blote geraas afgemaak en benadruk dat die internetoorlog geensins tot voordeel van Groenewald, Greeff of Van der Merwe is nie.
Hy het geen lig gewerp op die gesprek tussen hom en Liebenberg nie, en nog minder duidelikheid gegee oor die “ongure gerug,” van hom en die getroude vrou.

Back to top button