News

Nuwe inligting in honde-aanval saak

Die hof het tot 11:00 verdaag sodat die verdediging nuwe inligting wat deur die staat voogelê is kan deurwerk vir die borgaansoek van Wildlife Investigation and Protection Services se Piet Groenewald en Stephan Greeff.

Die pa en stiefseun verskyn vandag weer in die Groblersdal Landdroshof waar hulle borgverhoor hervat is, na drie weke se aanhouding.

Staatsaanklaer Faith Raselomane, het gesê dat hulle steeds borg opponeer en dat daar nuwe inligting is.
Advokaat Johan van Wyk het die versoek teengestaan omdat die verdediging onbewus is van nuwe inligting.

Landdros Bogi Mashele het aan advokaat Van Wyk gevra hoe hy nuwe inligting kan opponeer as hy nie weet wat die nuwe inligting is nie, waarop adv. Van Wyk geantwoord het dat die verdediging onkant gevang is en afskrifte daarvan versoek vir hulle eie hersiening.

Die hof het besluit om tot 11:00 te verdaag sodat alle bewyse of nuwe inligting aan die verdediging oorhandig kan word.

Die Groblersdal Landdroshof is gepak met politici en nasionale media.

Groenewald en Greeff staan tereg op klagtes van aanranding met die opset nadat hulle beskuldig is van die honde-aanval op Veneruru Kavari, ’n voormalige wag wat glo afgedank is omdat hy dronk was aan diens.

Hulle is verder beskuldig dat hulle Kavari met ’n bylsteel oor die kop geslaan het en hom met ’n onbekende vloeistof ingespuit het.

Groenewald en Greeff sê dat Kavari by hulle kantore op die plaas opgedaag het, en dat hy gewapen was met ’n panga en ’n piksteel, wat hy na Groenewald gegooi het.
Die piksteel het glo die hond getref, en hy het daarna losgebreek.

Daar is beweer dat Greeff, wat ’n opgeleide paramedikus is, Kavari ’n klem-in-die-kaak inspuiting gegee het nadat die hond hom gebyt het.

Back to top button