Ouma sou trots gewees het na oom se rekords spat
Die Van der Westhuyzen rekordbrekers het die land behoorlik aan die praat gehad.
Nadat daar oor Emma-Lee se prestasies op die atletiekbaan berig is in Die Daller en die Middelburg Observer se webblad het verskeie ander media die storie soos ’n stuk visaas gevat en daarmee gehardloop.
Jaco en Cornelda het in 1996 matrikuleer aan Hoërskool Ben Viljoen. Hy was hoofseun en sy onderhoofdogter van sport. Die twee het verskeie rekords laat spat.
Tydens die Elbé Pretorius Gedenkbyeenkoms by Hoërskool Ben Viljoen verlede week het Emma-Lee van der Westhuyzen nóg ’n rekord verbeter.
Emma-Lee is die jongste van die vier Van der Westhuyzentjies. Die egpaar se kinders is Nicole (20), Ellené (17), Jaco jr. (15) en Emma-Lee (13).
Al vier die Van der Westhuyzen-kinders is goeie atlete en word sedert 2018 deur hul ma afgerig. Voor dit is hulle deur ouma, Elbé Pretorius, afgerig. Elbé het verskeie ander atlete afgerig. Daarom is die atletiekbyeenkoms voorheen bekend as die Vallei Byeenkoms, se naam na haar afsterwe verander na die Elbé Pretorius Gedenkbyeenkoms.
Emma-Lee is ’n graad 8 leerling aan Hoërskool Ben Viljoen en het tydens dié gedenkbyeenkoms nog ’n rekord laat spat. Emma-Lee verbeter die 100m o/14 rekord met 12.37 sekondes. Sy het haar ma, Cornelda, se rekordtyd van 13.50 sekondes, wat in 1992 opgestel is, verbeter.
Emma-Lee het verlede maand, tydens Hoërskool Ben Viljoen se interhuis atletiekbyeenkoms haar ma se 100m rekord van 12.06 sekondes vir o/14-meisies geëwenaar.
Sy het ook tydens dié byeenkoms een van die oudste rekords by die skool in die 200m vir o/14-meisies, verbeter toe sy die wedloop in 26.50 sekondes voltooi het. Sy het Mari-Lise Furstenburg se rekordtyd van 26.90 sekondes, wat opgestel is in 1980, verbeter.
Jaco jr, is tans die Suid-Afrikaanse o/16-skolekampioen vir seuns in die 100m en 200m. Hy het ook tydens die interhuis uitgeblink toe hy die rekords van sy oom, dr. Hannes Pretorius (Cornelde se broer) verbeter het. Hierdie rekords is 32 jaar gelede opgestel.
Jaco jr. het die 100m vir o/16-seuns in ’n rekordtyd van 11.06 sekondes afgeblits, met Pretorius se rekord wat op 11.20 sekondes gestaan het. Hy het ook die 1992 rekord van 23.40 sekondes in die 200m o/16 seuns wat deur Pretorius opgestel is, verbeter na 23.00 sekondes.
Ellené wat tans in graad 11 is, is ’n provinsiale hokkiespeler, maar gaan elke jaar Suid-Afrikaanse kampioenskappe toe om in die 100m en 200m in haar ouderdomsgroep mee te ding.
Nicole wat in 2021 hoofmeisie aan Hoërskool Ben Viljoen was, het in 2018 ’n silwermedalje by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in die 100m verower.
Al vier die Van der Westhuyzen-kinders, asook hul ouers het reeds ’n rits rekords wat steeds in Ben Viljoen se rekordboeke pronk.
Jaco jnr. se interhuis rekords by Hoërskool Ben Viljoen wat steeds staan is as volg:
•O/15 100m hekkies opgestel in 2023 met ’n tyd van 13.82 sekondes. (Vorige rekord: Paul Coetzee, opgestel in 2008, tyd van 14.00).
•O/14 100m hekkies opgestel in 2022 met tyd van 14.06 sekondes. (Vorige rekord: Le-Roy du Plessis, opgestel in 2012, tyd van 15.40).
•O/15 200m opgestel in 2023 met tyd van 23.09 sekondes. (Vorige rekord: Kabelo Nyalungu, opgestel in 2014, tyd van 24.10).
•O/15 300m hekkies opgestel in 2023 met 40.90 sekondes. (Vorige rekord: Paul Coetzee, opgestel in 2008, tyd van 42.70).
•O/14 300m hekkies opgestel in 2022 met 42.00 sekondes. (Vorige rekord: Le-Roy du Plessis, opgestel in 2012, tyd van 46.00).
•O/15 100m opgestel in 2023 met 11.25 sekondes. (Vorige rekord: sy oom, Hannes Pretorius, se rekord van 1991, tyd was 11.70).
•O/16 100m opgestel in 2024 met 11.06 sekondes. (Verbeter sy oom, Hannes Pretorius, se rekord van 1992, tyd was 11.20).
•O/16 200m opgestel in 2024 met tyd van 23.00 sekondes (verbeter sy oom se rekord van 1992, tyd was 23.40).
Jaco snr. se interhuis rekords wat steeds staan by Hoërskool Ben Viljoen:
•O/17 verspring opgestel in 1995 met 6.44m.
•O/17 200m opgestel in 1995 met 23.00 sekondes.
•O/16 verspring opgestel in 1994 met 6.38m.
Nicole se rekords wat nog nog staan by Hoërskool Ben Viljoen vir interhuis:
•O/17 100m opgestel in 2020 met 12.35 sekondes.
•O/15 300m hekkies opgestel in 2018 met 46.10 sekondes.
•O/17 200m opgestel in 2020 met 26.00 sekondes.
•O/15 200m opgestel in 2018 met 26.21 sekondes.
Nadat Emma-Lee haar ma se rekord geëwenaar het, is daar tans geen rekords van Cornelda wat nog staan vir Hoërskool Ben Viljoen se interhuis atletiekbyeenkoms nie.
Dr Hannes Pretorius se rekord wat steeds staan by die interhuis atletliekbyeenkoms van Hoërskool Ben Viljoen is:
•O/16 400m opgestel in 1992 met ’n tyd van 52.50 sekondes.
Die Van der Westhuyzens is beslis ’n familie om dop te hou hierdie atletiekseisoen.