Skool se knal is stil – kanon gesteel
Hoërskool Kanonkop se kanon, wat sedert die skool se ontstaan al deel is van hul geskiedenis, is vanoggend in die vroeë oggendure gesteel.

Die skool bied ’n beloning van R2 000 aan vir enige inligting wat sal lei dat die kanon teruggekry word.
Christel Nel (bemarker) sê alle aanduidings is dat die kanon gedurende beurtkrag, tussen 03:00-05:00 gesteel is.
Hulle vermis ook die koperklok, waarmee die rondtes van langafstande aangedui word, asook die koperknippe van die vensters.
Die kanon en klok is Vrydag gebruik tydens die atletiekbyeenkoms by die skool en is daarna toegesluit in die klubhuis.
Die inbrekers het die knip en slot van die klubhuis oopgebreek. Christel meld dat die booswigte in die proses om die knip oop te breek hulself beseer het en daar bloed by die knip gekry is.
• Inligting rakende die diefstal, kan deurgegee word deur 060 341 2885 te bel of ’n WhatsApp boodskap te laat.
