Vrou sien hoe hawelose man vrou erg aanrand
’n Vrou het vroeër vandag aanmekaar: “help my!” geskreeu, terwyl ’n man haar genadeloos met die vuis geslaan het.

Me. Caroline Lottering was hewig ontsteld oor die gebeure.
“Ek was besig in die kombuis toe ek die gille in Luttigstraat hoor. Ek is na buite, waar ek gesien het hoe hy haar met die vuis slaan.”
Me. Lottering het dadelik die reaksielede van Titon Sekuriteit laat kom, maar met hul aankoms, was die man en vrou reeds weg.
Sy vertel dat die man en sy meisie al vir meer as ’n maand in die bos bly waar Vos-, Plein- en Luttigstraat bymekaar kom by ’n doodloopstraat.
“Hulle het ’n lekker boshuis aanmekaar geslaan. As hulle stil en rustig was, sou ons dit kon hanteer, maar gisteraand het hulle mekaar weer erg geskel. Ons kon elke woord in die huis hoor!”
Sy sê hulle het só erg baklei “dat ons kon hoor hoe hy vir die vrou sê hy gaan homself ophang, want sy waardeer nie wat hy vir haar doen nie.”

Die lede van Titon Sekuriteit het al verskeie kere na die boshuis gegaan, maar dan sê die twee, wat hulself as Bertus van Rooyen (33) en Yvonne Snyman(41) voorgestel het, dat hulle “niks aan ons kan doen nie.”
Me. Lottering het self ook al gekla by raadslid San-Mari Wait en die munisipale bestuurder, Mandla Mnguni.
“Die munisipale geregsdienaars was vanmiddag weer hier, maar sê hulle kon niks doen nie, want die twee was nie hier nie.”

Buiten die feit dat die twee erg baklei, kla die inwoners dat hulle in die nagte kabels brand.
Daar is ook gesien hoe ’n bakkie by hulle stop en ’n groot streepsak agter op die bakkie gelaai word.
“Ek moet die hele dag, elke dag my huis se alarm aanhou en met my paniekknoppie om my nek loop. ’n Mens kan mos nie so bly nie!”
• In Oktober verlede jaar is daar ’n onderhoud gevoer met Bertus en Yvonne, wat beweer het hulle is beide aangerand.
Bertus het diep wonde oral op sy lyf gehad en het gesê dit is omdat sy aanvallers hom onder andere deur riete gesleep het.

Die paartjie het gesê hul aanvallers het hulle beskuldig dat hulle wiele sou gesteel het. Hulle het hewig ontken dat hulle die wiele gesteel het.
Tydens die onderhoud het die twee erken dat hulle aan Tik (kristal metamfetamien) verslaaf is.
• Daar is vanmiddag weer na die twee gesoek, maar hulle was steeds skoonveld.
• Reaksielede van Titon Sekuriteit sê dit is nie net Bertus en Yvonne wat in die bos bly nie, maar reg oorkant hulle in die parkie oorkant die straat, bly daar oor gereeld mense.
• Haweloses het ook by die halfgeboude huis in Bloekomsig ingetrek.
