Kapers skiet op ma en dogter langs Tarriesbaan
’n Vrou en haar dogter is minute gelede amper in Oranjestraat by die Tarries-fietsrybaan gekaap.
Daar is ook op die twee vroue geskiet.
Die slagoffers het by die stopteken in Oranjestraat reg langs die ingang na die Tarriesbaan gestop toe ’n wit Audi met Mpumalanga registrasieplate skielik langs hulle by die stopstraat inbeweeg het.
Daar is dadelik ’n skoot op die vroulike bestuurder afgevuur, waarna sy na veiligheid gejaag het met die Audi agterna.
Die voorruit aan die bestuurderkant van die blou BMW waarin die vroue was, is met die impak van die projektiel gekraak.
Daar word vermoed dat die kapers, twee mans, ’n luggeweer in die aanval gebruik het.
Nadat die vroue weg gejaag het, het die Audi hulle agtervolg.
Die vroue het na Hawk Sekuriteit gery maar gesien dat een van die mans in die Audi weer sy ruit laat sak.
Hulle het vermoed dat daar weer op hulle geskiet gaan word, waarna die vroue besluit het om eerder aan te hou ry.
’n Gemerkte verkeersvoertuig het genadiglik verby die vroue gery, wat die Audi op die vlug laat slaan het.
Die Audi is deur ’n wit man bestuur, met ’n swart manlike passasier.
Die passasier het die skietwerk gedoen.
Die vrou is gelukkig nie beseer nie.
