News

Nie vir sensitiewe kykers: Gille uit bosse waar kindertjies ook gesien is

Die gille van ’n vrou terwyl sy aangerand word, is deur ’n inwoner opgeneem.

Daar is gister berig oor klagtes van inwoners oor ’n man en vrou wat in ’n bos bly in Mineralia.
’n Vrou is gister in die straat aangerand naby die boskamp.

Me. Maria van der Westhuizen, wat ook die omgewing bly, sê sy het ook die kabaal gehoor.
Sy het dadelik haar videokamera aangesit.

Die bosse is ruig en mens hoor net die persone se gesprekke.

Op die videomateriaal hoor jy hoe die man op ’n stadium sê: “kyk hier, ek gaan myself doodmaak. Baai… Bokkie!” en dan takke wat kraak.
Sy skree egter terug dat hy haar “nie bangmaak met daardie k.. nie.”

Alhoewel ’n mens nie die aanranding kort daarna sien nie, hoor jy hoe die vrou om hulp skree.

Die hawelose man en vrou is deur mense wat hul ken, geïdentifiseer as Bertus van Rooyen en Yvonne Snyman.

Hulle het ’n skuiling gebou tussen die bosse by die doodloopstraat waar Vos-, Luttig- en Pleinstraat, bymekaar kom.
Hulle bly al meer as ’n maand daar.

Beide me. Lottering en me. Van der Westhuizen sê dat die twee die vorige nag tot in die middernagtelike ure baklei het.
Me. Van der Westhuizen het beaam dat daar kabels in die nag gebrand word by die twee se skuiling.

“Ons weet nie meer wat om te doen nie!” kla me. Van der Westhuizen.

• Ander inwoners het laat weet dat daar drie weke terug ’n kind (van omtrent vyf jaar oud) saam met hulle was en dat die kind gereeld gesien is waar hy saam met die man tussen die bosse inloop.

• Inwoners beweer ook dat daar ’n dwelmhandelaar in dieselfde bos bly en dat ’n vrou met ’n driejarige kind by haar in die kar, gereeld in Luttigstraat stop om dwelms by die handelaar te koop.

• Talle inwoners het al die munisipale geregsdienaars en sekuriteitsfirmas gebel, maar as hulle by die skuiling kom, dan het die twee haweloses soos mis voor die son verdwyn.

• Bertus en Yvonne het tydens ’n vorige onderhoud erken dat hulle dwelms gebruik. Daar is gepoog om hulle op te spoor vir kommentaar maar hulle kon egter nie gevind word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button