Hendrik ‘gebruik al lank dwelms’
Die werknemer van Odds & All wat meer as 'n week gelede net 'verdwyn' het, het niks oorgekom nie en is by Komati Kragstasie se woongebied gesien.
Hendrik Erasmus (28), die man wat die afgelope week nie opgedaag het vir werk nie, is ‘n dwelmverslaafde.
Talle mense het boodskappe op Facebook gelaat wat geïmpliseer het dat hy ‘n moeilikheidmaker en verslaafde is.
Sy familie het ook bevestig dat hy verslaaf is aan kristal metamfetamien en alkohol.
Hy het die afgelope tyd by Odds & All gewerk en het op 5 Februarie nie opgedaag vir werk nie.
Sy werkgewers was baie bekommerd omdat hy nie teruggekeer het nie en het hulle tot die Observer gewend.
Die oomblik toe die berig egter op die webtuiste land, het die boodskappe begin instroom.
Ettiene Nagel het op Facebook gesê dat hy by Komati Kragstasie gesien is verlede Donderdag.
Hy het gemeld dat Hendrik by ‘n myn ingehardloop het en gesê het dat mense met gewere hom jaag. Later kon Hendrik niks daarvan onthou nie.
Verskeie mense het ook beweer dat hy ‘n dwelmverslaafde is.
Sy swaer, André Brand, sê die bewerings is waar.
“Ons weet nie waar hy is nie en wil hom nie meer help nie, want hy wil nie gehelp word nie!”
Hulle het hom Desembermaand in Stilfontein (Noordwes) laas gesien.
Mnr. Brand sê hulle is in die Kaap woonagtig en het by familie in Stilfontein gekuier toe hulle hom gesien het.
Hulle wou egter niks met hom te doen hê nie.
Hy vertel hoe hy en sy vrou, Bella (Hendrik se suster), al verskeie kere probeer het om Hendrik te help.
“Hy het gedreig hy gaan haar keel afsny! My kinders is vreesbevange as hulle net sy naam hoor!”
Nadat Hendrik by hulle weg is, “het ons al die dwelmpapiertjies in sy kamer gekry.”
André het vertel hoe Hendrik, toe sy ma nog geleef het, die huis aan die brand gesteek het met haar nog in die huis.
Gelukkig kon sy vinnig genoeg uitkom.
André sê Hendrik is op ‘n stadium ook skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Daarvoor is hy ‘n opgeskorte vonnis opgelê.
Die klagtes het voortgespruit uit ‘n voorval waar Hendrik se oom ernstig aangerand is.
André meld dat Hendrik ook al toegesluit is deur die Witbank Polisie, soos na sy dreigemente teenoor sy suster.
André noem dat talle mense na Hendrik soek omdat hy hulle ingeloop het.
Hy het byvoorbeeld op Bloemhof by ‘n sekuriteitsdirma gewerk.
“Vir hulle het hy vertel dat sy suster kanker het en dat hy R8 000 nodig het om haar te help. Hy het die geld gevat en verdwyn.”
André gee toe dat Hendrik ‘n baie aangename mens is as hy nie drank en dwelms in het nie.
“Hy was op ‘n stadium ‘n jeugleier by ‘n kerk en het sy lewe vir verander. Dit hou egter net ‘n rukkie.”
André beskryf Hendrik “as ‘n glibberige mens wat elke R40 wat hy kry, gebruik vir sy volgende fix.”
Hy is van mening dat Hendrik lank toegesluit moet word, sodat hy sy dwelmverslawing kan afskud.
- Mnr. Stephan Grobler (van die Gemeenskap in Blou van Komati Kragstasie woongebied) sê hy het Hendrik verlede Saterdag aan die polisie oorhandig.
“Daar is vir ons gesê dat daar ‘n lasbrief vir arrestasie is teen sy naam.”
Dit was egter onwaar en is hy laat gaan.
Hy het gemeld dat “Hendrik glad nie so gewelddadig is soos mense voorgee nie.”
Mnr. Grobler het ook genoem dat hy vir Hendrik kos gekoop het toe hy hom gekry het waar hy in die veld op bokse slaap.
