Rodeo saak: Liversage skuldig
Leon 'Kylon' Liversage, is hierdie week in die Middelburg Landdroshof skuldig bevind aan dieremishandeling, wat verband hou met rodeos.

Liversage is gevonnis tot 12 maande gevangenisstraf, wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar.
Liversage is verlede jaar in Maart gearresteer tydens ‘n rodeo wat aangebied is by Ribokkloof (buite Middelburg) en het die saak talle kere in die hof voorgekom.
Hy is laat hierdie week skuldig bevind en gevonnis.
‘n Totaal van ses verteenwoordigers van die Dierebeskermingsvereniging het die uitspraak en vonnisoplegging in die hof bygewoon.
Dit het vier lede van hul nasionale kantoor, asook senior inspekteur Petro Oberholzer en Prince Mokwana van Middelburg ingesluit.
Op die Nasionale Dierebeskermingsvereniging se Facebookblad het hulle aangedui dat die skuldigbevinding vir hulle ‘n groot oorwinning is.
Die berig op hul Facebookblad het gesê dat ten spyte van eksplisiete verbodsbepalings op die lasbrief wat aan hom oorhandig is, het hy voortgegaan om spesifieke toerusting op die bulle te gebruik.
Die lasbrief het onder andere gesê dat spanbande en spore nie gebruik mag word nie.
Hulle het aangedui dat hierdie toerusting beserings en ongemak aan bulle kan veroorsaak.
Verder is in die Facebookplasing ook gesê dat hy blatant die lasbrief verontagsaam het en hy toe op die dag (Maart 25, 2023) gearresteer is.
Sen-insp. Oberholzer het die polisie saam met die inspekteurs van hul nasionale kantoor na die rodeo toe vergesel.
Liversage is gearresteer omdat hy die bevel verontagsaam het.
Tydens die verhoor het Daryl White (nasionale inspekteur) en dr. Bryce Marock (NDBV veeartskonsultant) onder andere vir die staat getuig.
Liversage is op al vier klagtes onder die Dierebeskermingswet skuldig bevind.
Die opgeskorte vonnis bepaal dat Liversage hom nie self skuldig mag maak aan enige soortgelyke misdrywe nie.
Mnr. Liversage is aangeraai om wat met hom gebeur het onder ander rodeo deelnemers te versprei, dat hierdie toerusting nie gebruik mag word nie.
Die NDBV het verder op Facebook gesê dat hulle ‘n strenger vonnis sou verkies het, maar dat hulle steeds dankbaar is dat mnr. Liversage nou ‘n kriminele rekord op sy naam het, wat langdurige gevolge inhou.
Hulle meld ook dat die uitspraak ‘n duidelike bewys is van hul veroordeling van die wrede praktyke tydens rodeos, wat dierebeskermingswette oortree.
Hulle het verder aangedui dat hulle die hof se besluit verwelkom, wat die dringende behoefte aan groter ondersoeke en regulering van rodeo-geleenthede landswyd beklemtoon.
Hul plasing is afgesluit deur ‘n aanhaling van nasionale inspekteur White wat gesê het dat dié oorwinning ‘n duidelike boodskap stuur aan rodeo-deelnemers dat hulle die uitbuiting en misbruik van diere vir vermaaklikheidsdoeleindes nie sal duld nie.
In die aanhaling is uitdruklik genoem dat hulle sal voortgaan om die Dierebeskermingswet en gepaardgaande wette kragtig toe te pas, om oortreders aanspreeklik te hou vir hul optrede.
• Mnr. Liversage se regsverteenwoordiger, Werno van Aswegen, het aan die hof voorgehou dat hulle teen die uitspraak gaan appelleer.
• Rulene Matthews het opgetree vir die staat en landdros Vilane het die saak aangehoor en uitspraak gelewer.
• Mnr. Liversage is ‘n bekende in perdrykringe, en veral by uithouritte.
Hy vervaardig onder andere ‘n salf wat wêreldwyd op perde gebruik word om te voorkom dat hulle skaafplekke opdoen onder saals tydens die uithouritte.
Hy voorsien selfs van die salf aan regeringsamptenare van sover as Dubai.