News

‘Waar is my optog vir geregtigheid?’ vra slagoffer

Panga slagoffer kap Groblersdal hof.

Ná meer as ‘n jaar, nadat Lorraine Prinsloo (57) wreedaardig in haar huis op die plaas Blombos met ‘n panga aangeval is, sit sy verlede Woensdag, 7 Februarie, op die stoep van Groblersdal se landdroshof en vra waar haar optog vir geregtigheid is.

Buite die hof dreun stemme van betogers wat sing, dans en saamgedrom het vir die borgtogaansoek van Stephan Greeff (27) en Piet Groenewald (67), wat vir die derde week in die Groblersdal Landdroshof verskyn.

Hulle staan tereg op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, nadat Greeff en Groenewald na bewering ‘n werknemer met ‘n piksteel aangerand, ‘n veiligheidshond aangehits het om hom te byt en hom glo met ‘n onbekende vloeistof ingespuit het. Die doel van die betogers buite te hof, is volgens hul, om geregtigheid te laat geskiet deur die borgtogaansoek teen te staan.

“Waar is ons optog vir geregtigheid,” het Prinsloo Woensdag moedeloos gevra.

Me. Magda Coetzee (AfriForum Trauma-eenheid), het vertroostend met haar hand op Prinsloo se skouer gevryf.

Prinsloo se vermeende aanvaller sou verhoor word. Ten spyte dat Prinsloo, haar familie en me. Coetzee al van vroegoggend by die landdroshof gewag het, is die saak teen 10:00 uitgestel, aangesien die beskuldigde se regsverteenwoordiger vir twee dae afsiek geboek is.

“Ons het gesukkel om by die hof in te kom. Toe ek uiteindelik my dokumente wys en verduidelik dat ek hier is vir ‘n verhoor waarby ons betrokke is, is ons toegelaat. Maar toe wou die sekuriteit by die hof nie my getuies of berader in die hof toelaat nie, aangesien hul op hul hoede is om enige iemand in te laat, weens die borgtogaansoek van Greeff en Groenewald.

Groblersdal se landdroshof is ‘n klug. Ek kan beslis nie die verhoor hanteer sonder my getuies óf my berader nie. Magda het my beslis baie gehelp en tot my redding gekom,” vertel Prinsloo.

Victor Seroka (34) staan tereg op aanklagte van huisbraak met die doel om te steel, betreding, roof met verswarende omstandighede en ‘n alternatiewe aanklag van poging tot moord, asook dieremishandeling.

Kort nadat me. Lorraine Prinsloo in haar huis aangeval is met ‘n panga.

“Dit is baie moeilik vir my om hier te wees. Dit voel of ek ‘n gat in my maag het. Dit was besonders moeilik om vir die eerste keer die beskuldigde in die oë te kyk.”

Die verhoor, wat veronderstel was om Woensdag en Donderdag gehou te word, is uitgestel tot April. Prinsloo was moedeloos om te hoor die saak is uitgestel, aangesien hul ‘lank gewag het om die verhoordatum te kry, aangesien die saak oor en oor uitgestel is die afgelope jaar.”

Prinsloo is op 23 Desember 2022 in haar huis op hul familie wildsplaas, 28km buite Groblersdal op die N11, oorrompel en herhaaldelik met ‘n panga oor die kop geslaan. Sy wys Woensdag vir Die Daller haar hande waar dit op verskeie plekke stukkend gesny is deur die herhaaldelike houe wat sy probeer afweer het.

Die oggend van die voorval was sy in haar kombuis besig met voorbereidings vir Kersete.

Michael, haar man, is kort voor 08:00 by die huis weg, nadat die alarm by hul seun se huis, wat ook op die plaas woon, afgegaan het. Sy seun was op pad terug van vakansie af.
Terwyl mnr. Prinsloo weg was, het die aanvaller op me. Prinsloo toegesak.

Die aanvaller het ‘n beursie en selfoon in die kamer gevat, daarna het hy aangedring op skoene.

Die oomblik toe hulle by die kamerdeur uitgaan, het me. Prinsloo die aanvaller vorentoe gestamp, teruggespring en die deur gesluit.
Sy het Loskop Alarms gebel en haar man en boere op hul radio geroep vir hulp.

Amper ‘n 100 boere was vinnig op die toneel, asook mnr. Piet Groenewald van WIPS (Wildlife Investigation and Protection Services), ander lede van dié sekuriteitsmaatskappy, Loskop Alarms en Swift EMS.

Die huis was oral met bloed besmeer soos me. Prinsloo met haar aanvaller gestoei het.

Sy is dadelik ná Groblersdal Hospitaal geneem, waar sy gestabiliseer is, waarna sy ná Life Midmed Hospitaal geneem is.

WIPS het ook ‘n spoorsnyer ingespan om die aanvaller agterna te sit. Mnr. Groenewald (WIPS) en sy span het binne ‘n uur en ‘n half die verdagte, sowat agt kilometer vanaf die Prinsloos se huis opgespoor. Mnr. Groenewald het destyds gemeld dat hulle nie so gou ‘n arrestasie sou kon maak, as dit nie vir die hulp van die boere in die omgewing was nie.

Die verdagte is in hegtenis geneem en items wat op die plaas gesteel is, is in sy besit gevind.
Me. Prinsloo het 240 steke aan haar kop gekry.

Seroka is sedert sy arrestasie in aanhouding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button