Hoe maak jy ’n gatskop-braaibroodjie?
Hoe lyk ’n gatskop-braaibroodjie? Ons het by die dorp se braaibroodjie wenner, Sanette Pretorius, gaan kers opsteek.
Sy is so pas gekroon as Hoërskool Middelburg se braaibroodjie koningin.
“Ons is baie lief vir braai en alhoewel gebakte/gebraaide aartappels en pap en sous lekker bykos is, bly ’n braaibroodjie maar koning. Vir ons bestaan ’n lekker braaibroodjie uit spesiale bestandele wat baie goed saam gaan, maar ook smaaklik is, elkeen op sy eie. Jy moet met een happie alles saam, maar ook elkeen individueel kan proe.”
Sy sê die jaar se kampioen braaibroodjie was gemaak van vars aartappelsuurdeeg.
“Die broodjie word gebak met ’n aartappelsuurdeeg plantjie. Dit is nie moeilik nie, maar dit vra heelwat geduld, jy kan hom nie aanjaag nie. Op ’n lekker warm dag neem dit omtrent sewe tot agt ure voor jy hom kan bak, maar dit is die wag die moeite werd.

“Om die uie te karameliseer braai ons dit sag, strooi bietjie suiker oor en rond dit af met bietjie suurlemoensap.
Vir die gerookte bief-geur kry ons die spesiale bestandeel by Frank’s Meat, hulle verkoop ’n gerookte kaas varkwors. Dit word gebruik saam met gewone maalvleis om ’n klein patty te maak wat gebraai word tot ’n brosserige kors bo-oor ’n houtvuur.
“Die wenner bestandeel is seker die kickass kaas wat ons saamgery het vanaf Mosselbaai. Daar is ’n kaaswinkel in Voorbaai wat die heerlikste, sterkste kaas wat ons al geproe het, mature cheddar kaas, verkoop. Dit was die moeite werd om ’n paar blokke te vries en saam te ry!
Die volgorde met die bou van die broodjie is ook belangrik, anders val hy uit mekaar wanneer jy hom probeer eet. Jalapeno mayo soos wat jy botter sou smeer, gerasperde kaas, sny dan ’n patty in fyner stukke en plaas op die broodjie, dun snytjies tamatie, sout en peper en gewone cheddar wat lekker maklik smelt.
Wees geduldig, die broodjie neem so 15 minute om lekker te braai. Dan is hy heerlik krakerig en al die bestandele is warm saam met gesmelte kaas.”

Sanette het vertel dat hulle dogter vir MHS netbal gespeel het en dat hulle baie betrokke was by “alle dinge netbal”.
“’n Paar jaar terug, dink 2020 is die eerste potjiedag gehou, soortgelyk aan die braaibroodjies. Hugo (Sanette se man) se broer Ryno en sy vrou Chantall het daai jaar en die daaropvolgende jaar gewen en toe uitgetree sodat iemand anders ’n beurt kan kry om te wen.
“Ons sou nie die jaar deelgeneem het nie, maar hoe sê mens nou nee vir Marlie!
“ Ons ondersteun Middies, ons seun is tans in graad 10 en hoe moeilik kan ’n braaibroodjie dan nou wees, dit is mos in ons kultuur?”
• Die maak van Sanette en Hugo se gatskop-braaibroodjie is natuurlik ’n tydsame proses, en daarom kon ’n video nie daarvan gemaak word nie.
Middelburg se eie Mr Bean, het egter ingestem om sy weergawe van ’n gatskop-braaibroodjie – die Bean-broodjie – te maak.
Loer gerus!
@middelburgobserver The Bean Broodjie! Mr Bean SA shows us how he makes his own ‘gatskop braaibroodjie’. #Middelburg #braaibroodjie #MrBean
