Kar oopgepluk, foon gesteel by poskantoor
Straatrowers voer steeds ’n skrikbewind in die sakekern.
Die jongste slagoffer, Ursula Lourens, is verstom dat die straatrowers daarin kon slaag om die deur van haar voertuig oop te ruk en ’n selfoon uit haar man se greep te gryp.
Die voorval het in OR Tambostraat plaasgevind.
Volgens Ursula, is sy gou na die poskantoor toe en haar man het in die kar gesit en wag toe twee mans op die Fortuner toegesak het.
“Hy was besig om my te bel, toe een van die mans by die bestuurskant sy aandag probeer aftrek het.”
Haar man, Theuns, het die kar dadelik gesluit, maar die tweede man het met geweld die passasierskant oopgeruk en die selfoon uit Theuns se hand gegryp.
Een van die diewe was ’n ouerige man.
Ursula glo dat diewe veral Toyota Fortuners teiken.
Sy is laas week naby die begraafplaas in Samora Machelstraat deur ’n minibus agtervolg wat haar duidelik wou aftrek.
“Hulle het bly fluit en langs my gestop en ek moes draaie ry om hulle van my spoor af te kry.”
Ursula sê dat sy nêrens meer veilig voel nie.
Die selfoon wat gesteel is, is skaars ’n maand oud, “ons het die selfoon laat blok omdat my man se e-pos op daai foon is!”
•Misdaad in die middedorp het ’n vernietigende invloed op sakelui wat al meer besluit om hulle besighede elders te gaan vestig.
•Daar word ook gevra waarom werk die kamerastelsel nie, wat ten duurste aangekoop is met belastingbetalers se geld.
