Ma pleit vir hulp vir wonderwerk baba
Hy maak kraaigeluidjies soos enige sewe maande oue baba, maar klein Peter Lotter het hartprobleme en het hulp nodig om nie siek te word nie, want dit kan sy lewe kos.
“Daar is hoop. Peter is ons wonderwerk baba. Daar is ’n doel met hom, ek het hom nie verniet in die wêreld gebring nie,” het Peter se ma, Marjuan vanoggend emosioneel gesê.
Om te voorkom dat Peter die RSV griepvirus kry, wat fataal vir hom sal wees, moet die gesin sou gou as moontlik fondse bymekaarmaak vir spesiale inspuitings wat hy moet kry.
“Hy moet vier inspuitings kry. Elke maand een, maar dit beloop R15 000 per inspuiting en al het ons ’n Back A Buddy-fonds begin, het ons nog net R3 000 bymekaar gemaak. Peter moes al op 1 Februarie die inspuiting gekry het.”
Alhoewel die gesin ’n mediese fonds het, betaal dit nie vir die inspuiting nie.
• Die gesin het eers besef daar is fout met hul pragtige blondekopseuntjie toe hy in Desember skielik geweldige koors ontwikkel en hulle hom Life Midmed Hospitaal toe geneem het.
Hy is met brongitus gediagnoseer, maar die kinderarts het dadelik agtergekom sy hartklop is nie normaal nie.
Die egpaar, Marjuan en Peter (snr), is verwys na ’n professor in Gauteng.
Toetse het aangedui dat Peter (jnr) drie gaatjies in sy hart het, asook ’n pulmonêre vatvernouing.
“Die dokter het vir ons gesê dat babas met hierdie probleem, gewoonlik direk na geboorte sterf, maar ons seuntjie was met geboorte al ’n wonderwerk.”
Die egpaar was ook onder die indruk dat ’n operasie hul baba sou kon help.
Nadat hy gegaan het vir nog toetse, het die professor hulle drie dae later laat weet dat hulle nie ’n operasie op klein Peter kan doen nie.
“Die gat tussen die twee hartkamers is te groot om te opereer en dit is ook te gevaarlik, want al die hoofslagare is daar. Die linkerkant van sy hart is ook vergroot.”
Met die toetse en sonars wat gedoen is, het die dokters verder gevind dat die vernoude aar “sy hartjie se manier was om te keer dat hy nie verdrink in sy eie bloed nie.”
Weens sy ernstige hartprobleem, moet Peter al sy energie gebruik om sy bottel te drink en drink hy soos ’n pasgebore baba.
“My seuntjie sweet geweldig as hy net 100ml gedrink het, maar hy is nie ondervoed nie, net kleiner as ander babas van sy ouderdom.”
Marjuan het opgehou werk om soveel as moontlik tyd saam met Peter deur te bring.
“Ons probeer hom so normaal as moontlik grootmaak. Hy is reeds ’n wonderwerk en hy gáán ook ’n wonderwerk wees die res van sy lewe!”
• Sy het gesê dat “dit skrikwekkend” is dat die dokters tydens sy geboorte, met sy ses weke ondersoek en selfs toe hy siek geword het, dit nie agtergekom het nie.
“Hierdie is ook ’n bewusmaking vir ander ouers. Die kinderarts is die eerste dokter wat dit agtergekom het toe ons met hom hospitaal toe is, toe hy siek geword het in Desember.”
• Marjuan het foto’s en ’n video van Peter beskikbaar gestel. Sy het ook die doktersverslae beskikbaar gestel.
• Sakelui wat die Back A Buddy-fonds wil ondersteun of wil kontak maak met die gesin, kan Marjuan bel by 082 625 2817.
• Fondse kan ook direk inbetaal word by die Back A Buddy-fonds deur in te gaan op dié skakel en die aanwysings te volg: https://www.backabuddy.co.za/peter-lotter-5833663692346450872
@middelburgobserver Inspuitings kan keer dat baba Peter (7 maande) siek word
