Pieter wen brons by kulinêre Olimpiese Spele
Suid-Afrikaners ken hom van Kokkedoor af, inwoners ken hom as oud HTS leerder en vriendelike kelner.

Die eertydse gasvryheidstudent en Ginelli’s kelner, Pieter Malan, het wêreld-bekendheid verwerf nadat hy ’n brons toekenning verwerf het tydens die 26ste kulinêre Olimpiese Spele wat van 2 tot 7 Februarie by die Messe Stuttgart kosfees in Duitsland plaasgevind het.
Pieter het beoordelaars verstom met ’n unieke kookkuns, wat bestaan het uit Wes-Afrika spyseniering.
Sy tegniek en begrip vir die uitsonderlike bestanddele het hy egter al vir die laaste jaar geslyp tydens sy rol as uitvoerende sjef by die Fiesta Royale Hotel and Residences in Accra, Ghana.
Pieter se prestasie is tog iets waaruit Afrika se kosbedryf kan baat, omdat hy die eerste sjef is om spyseniering uit Wes-Afrika in die Olimpiese Spele voor te berei as een van vyf deelnemende Suid-Afrikaanse sjefs.
“Die kookkuns en bestanddele wat in Ghana gebruik word, verskil baie met dié waaraan ons gewoond is, so ek moes baie oortuigend wees oor die geure en bestanddele en moeite doen om die Wes-Afrika kossoorte op ’n fynproewerspyskaart te sit. Maar dit het beoordelaars en die internasionale gasvryheidsbedryf iets geleer en hulle blootgestel aan ander spyseniering.”
As uitvoerende sjef by die Fiesta Hotelgroep, is Pieter in beheer van twee groot kombuise; die een ’n onthaalkombuis wat daagliks ’n internasionale ontbyt vir 600 mense voorberei, en die tweede ’n kombuis waar geregte vir fynproewers geskep word.
Daar het Pieter die hotel se spyskaart verander om uit hoofsaaklik plaaslike geregte te bestaan, en die gebruik van ingevoerde bestanddele na net 10% te sny.
Pieter en sy span het ook twee merkwaardige prestasies behaal, nadat hulle aangewys is as die Beste Afrika Restaurant en die Beste Innoverende Restaurant in die World Luxury Restaurant Awards verlede jaar in Griekeland.
Pieter dien ook al van 2022 af as die streekvoorsitter van die Suid-Afrikanse Sjefsvereniging, Mpumalanga, waar hy ’n instrumentele rol gespeel het in jeug-gasvryheidsprogramme.
“Een van my hoogtepunte as streekvoorsitter was ook die samestelling van ’n tema-liedjie vir die vereniging en nasionale spanne.”
Hy sal egter die leisels as streekvoorsitter moet oorgee noudat hy in Ghana werksaam is.
• Pieter het in Middelburg groot geword, en was deel van die eerste groep HTS leerders om gasvryheidstudies te studeer onder die leiding van mnr. Erwin Stehring. Hy het as kelner gewerk by Dros en Ginelli’s, en by Ginelli’s het hy sy passie vir gasvryheid ontdek.
Daarna is hy na Randburg om tydelik kulinêre opleiding te ontvang.
“Sjefskool is egter baie duur, en die bekende Oostenrykse sjef, Martin Kobald het my onder sy vlerk geneem en was my mentor. Dis iets wat ek gereeld voorstel vir jong mense wat belangstel in kookkuns. Vind ’n goeie sjef wat jou onder sy vlerk sal neem, en sit die ure in om by hulle te leer.”
• Pieter hoop om vir twee jaar in Ghana te bly, waarna hy sal terugkeer na Mbombela om by sy vrou en drie seuns aan te sluit, “my seuntjies is nog jonk en my pappahart kan nie so lank van die huis af wees nie.”