Plant kan jou in hospitaal laat beland
Pasop, daar is plante wat jou in die hospitaal kan laat beland!
Des Jelliman sê sy vel het gebrand asof daar warm kookolie oor hom uitgegooi is, nadat die sap van ’n garingboom op hom beland het.
“Ek moes in die swembad gaan spring. My vel het die hele tyd gebrand. Nie eers die swembadwater het dit afgekoel nie. Ek het selfs Camomile salf aangesmeer toe dit so erg gejeuk en gebrand het, maar niks het gehelp nie!” vertel hy.
Die Agave plante, wat ook die Sisalplant of garingboom genoem word, staan al jare voor in sy tuin en het só groot geword dat hy gesukkel het om die gras om dit te sny.
Hy het Saterdag besluit hy gaan die kante van die plant korter kap met ’n panga, maar dit was só dik, dat hy dit nie afgekap kon kry nie.
Des het sy kettingsaag gaan haal en begin om dit weg te sny.
Die sap van die plant het met die kettingsaag oral gespat en ook op sy arms en bene beland.
Sekondes later het sy arms en bene begin brand.
“Dank die Vader dit het nie in my oë en gesig ook gekom of dat ek dit ingeasem het nie, want my arms en bene het dadelik begin brand! Dit het gevoel soos warm kookolie op my vel!”
Hy het na sy swembad toe gehardloop, sy klere uitgepluk en ingespring, maar dit het geen verskil gemaak nie.
“Ek het selfs met spiritus dit probeer afvee, maar die brand het nie weg gegaan nie. Ek het later nie meer geweet wát om op te sit nie. Ek wou van my kop af raak!”
Na drie ure het die ergste brand begin weggaan, maar ’n uitslag het op sy vel gevorm.
Hy het ook begin opswel.
“Ek was Sondag en Maandag nog so geswel, dat ek nie my vingers kon beweeg nie. My spierstelsel was aangetas, want ek was moeg en lam en kon ook nie eet nie. Ek kon eers teen die Woensdag regtig iets begin eet.”
Hy is ’n bekende by pretlope en marathonne en oefen op ’n byna daaglikse basis.
Des sê egter dat hy die hele week daarna nie kon oefen nie en eers die week weer begin stap het.
Hy het aangedui dat hy die plant wortel en tak gaan verwyder deur ’n tou om dit te sit en met sy bakkie uit te ruk.
“Ons moet mense waarsku hoe giftig dit is!”
• Des het ’n artikel, wat hy van die Internet af gelaai het, saamgestuur, waar gesê word dat die ‘Agave Americana’ swelling, uitslag en sere op die vel kan veroorsaak. Dit kan ook swelling van die klein bloedvate onder die vel veroorsaak.
• Plantkenner Nico Taute (van Ninfa Kwekery) sê dit is waar dat dié plant ’n allergiese reaksie kan veroorsaak.
“Die hitte en sweet saam met die sap, het dit waarskynlik nóg erger gemaak.”
Hyself versamel al die tipes ‘Agave’ plante en het genoem dat jy “van miniatuur tot monsterplante kry. Daar is baie verskillende vorms en dit is baie gewild onder vetplant-versamelaars.”
Nico noem dat die ‘Agave’-plantfamilie eintlik kom vanaf Mexico en Texas, ’n Noord-Amerikaanse plant.
“Daar word Sisal-toue van gemaak en dit is hoekom ons dit in Afrikaans die garingboom noem.”
Tequila word ook van die plant gemaak.
• Nico sê dat mense verskillend is en dat dit moontlik is dat ernstige allergiese reaksies kan ontstaan.
• Nog ’n gewilde plant, wat hewige allergiese reaksies by mense, veral diere en kinders, kan veroorsaak, is die ‘Euphorbia Tirucalli’, wat alom bekend is as ‘‘Firesticks.”
As mense hom vra om hul tuine uit te lê of interessante plante in te bring, vra hy altyd of daar diere of kinders is.
“Ekself het al in ongevalle afdeling van die hospitaal beland omdat ek ’n allergiese reaksie op die plant gehad het. Ek kon nie asem kry nie. Gelukkig het ek gou allergiemedikasie gekry en kon huis toe gaan.”
Hy maak altyd seker dat sy werkers beskermde klerasie, soos handskoene dra, as hulle die plant hanteer.
“Die sap kan ’n reaksie veroorsaak soos wanneer jy byvoorbeeld allergies is vir bysteek!”

