Gort is gaar in die Bulkraal
“Die gort is gaar” beteken die poppe is aan die dans, die geveg het begin, die duiwel is los.

En nou is die gort gaar in die Bulkraal.
Dit alles oor die “arrogante” Stormers wat spog dat hulle op 2 Maart na Loftus Versfeld opruk vir hulle agtste oorwinning in ’n ry.
Dit het alles begin met die soeke na ’n gelukbringer wat die Stormers span op die veld sal lei.

Op die advertensie wat vra “this is your child’s chance to run onto Loftus with the DHL Stormers” is ’n foto van Stormers haker en losvoorspeler Deon Fourie. Maar wat veral ’n beroering in Pretoria veroorsaak het wat die richterskaal in die rooi gedruk het, was die woorde daarnaas: “Lead us out for our 8th win in a row”. Eina!
Boonop word daar in die Kaap gespot die Bulle se advertensieveldtog “#FillUpLoftus” moet eerder verander word na “FlopOpLoftus”.
Suid-Afrikaane toeskouers is natuurlik altyd reg vir ’n geveg of die poppe wat dans. Daarom is dit geen wonder dat daar reeds 25 000 kaartjies vir die kragmeting verkoop is nie.
