Jet nie neergestort nie, maar op aanloopbaan probleme ondervind
Die Jet wat gister deur 'n betonmuur gebars en in die veld langs die Middelburg Vliegveld tot stilstand gekom het, het nooit opgestyg nie, maar op die aanloopbaan probleme ondervind.
Verskeie mense het gisteroggend die joernalis laat weet dat ‘n “vliegtuig neergestort het in die veld langs die vliegveld.”
Dit het egter later deur die dag bekend geword dat die Aero L-39 Albatros Jet van mnr. Richardt Lovett nie opgestyg het nie.

Daar is verneem dat die Jet een of ander tegniese probleem ondervind het terwyl hy op die aanloopbaan was, waarop dit die betonmuur getref en in die veld tot stilstand gekom het. ‘n Ondersoek sal later bepaal wat die presiese oorsaak was.
- Talle boodskappe ter ondersteuning aan die familie het op Facebook begin instroom nadat daar van die ongeluk verneem is.
Me. Tanya du Preez het op haar plasing gesê dat sy mnr. Lovett gesien het in ongevalle by die Life Midmed Hospitaal.
“Ek het gesien hoe stukkend en vol bloed oom is, hoe seer oom moet hê. Ek bid dat Liewe Jesus oom se hand sal styf vashou en dat oom sommer gou beter sal voel….Mag oom heel anderkant uitstap.”
Sy het ook in ‘n volgende plasing genoem dat mnr. Lovett stabiel is en geopereer moet word. “Sy kakebeen is gebreek en daar is nog glas in sy oog.”
