News

Sekuriteitsfirma kry gesteelde skootrekenaar binne week terug

’n Vrou is verstom oor die goeie ondersoekwerk van ’n sekuriteitsfirma wat haar skootrekenaar teruggekry het, nadat dit deur ’n grypdief gesteel is.

Die vrou (wat verkies om anoniem te bly) was vol lof vir Masemanga Security Services.

Sy het op 17 Februarie (’n Saterdag) in haar voertuig gesit voor die Build It gebou (ou Pick ’n Pay Sentrum) in die parkeerarea.
Die karvenster was oop vir die hitte en sy het uit die hoek van haar oog beweging gesien.

Voordat sy kon keer, het die persoon die skootrekenaar deur die venster gegryp en begin hardloop.

’n Sekuriteitswag van Masemanga, wat ’n entjie verder gestaan het, het die dief agterna gesit, maar hy het in die Iraq Taxistaanplek in verdwyn.

Die sekuriteitswag het teruggeloop na haar toe en haar selnommer gevat.
Hy het vir haar gesê dat hulle haar skootrekenaar sal terugkry, want hulle het al baie mense se gesteelde artikels teruggekry.

Presies ’n week later, Saterdagoggend, het sy ’n oproep gekry van mnr. Thabo Masemene, die eienaar van die Masemanga Sekuriteitsfirma.
Hy het haar meegedeel dat hulle die skelm gevang het, maar dat hulle nog nie haar skootrekenaar teruggekry het nie.

Nie lank daarna nie, is sy weer gekontak met die nuus dat haar skootrekenaar gekry is en dat sy dit kan kom haal.

Die vrou en haar man was aanvanklik skrikkerig om alleen middedorp toe te gaan en sy het eers polisiestasie toe gery.
By die polisiestasie het sy ’n polisieman buite gekry en vir hom gevra of hy saam met haar kan gaan.

Hy het gevra of sy ’n saak geopen het by die polisie en sy het gesê dat sy ongelukkig nie gedoen het nie.

Die polisieman het haar aangeraai om nie alleen te gaan na die omgewing waar sy die skootrekenaar kon gaan haal nie, “want dit kan ’n lokval wees.”
Hy het haar ook gevra of sy versekering het op die skootrekenaar, maar ongelukkig het sy nie versekering nie.

Die egpaar het besluit om wel na die sekuriteitsfirma toe te gaan.

Omdat hulle steeds bang was om alleen te gaan, het hulle Mid Alarms gekontak om hulle te vergesel.

Sy sê dat een van Mid Alarms se reaksielede, Gert Oosthuizen, saam met ’n lid van CSC Tactical, Louis Zietsman, saam met hulle gegaan het.

Met haar aankoms by Masemanga Sekuriteitsfirma is haar skootrekenaar vir haar gegee.
Sy kon haar sekuriteitskode insleutel en al haar dokumente was nog net so op die stelsel.

“Ek het aangebied om hulle iets te betaal vir hul harde werk en het vir hulle R500 gegee. Ek kon nie meer betaal nie, want my man is tans werkloos.”

• Mnr. Masemene sê hy bedryf al agt jaar die sekuriteitsfirma op die dorp.

Die man wat hulle gevang het, het Saterdag na ondervraging vir hulle gaan wys aan wie hy die skootrekenaar verkwansel het.
Hul reaksielede is na die besigheid om die skootrekenaar terug te kry.

“Dit was ’n Nigeriër van ’n spesifieke besigheid in die dorp wat die skootrekenaar gekoop het by die dief!”

Mnr. Masemene het gemeld dat die Nigeriër nie net geld betaal vir gesteelde artikels soos skootrekenaars en selfone nie, maar ook dwelms voorsien aan verslaafdes.”

• Hy noem dat hulle in hul ondersoeke agtergekom het dat misdaad in die middedorp veral oor naweke en aan die einde van die maand skerp toeneem.

Een van sy reaksielede is verlede jaar in November met ’n mes gesteek toe hy ’n verdagte vasgetrek het. Die reaksielid het gelukkig volkome van sy besering herstel.

Mnr. Masemene het genoem dat hy self ook onlangs in ’n geveg met ’n booswig betrokke geraak het toe hy hom gevang het vir diefstal.

• Die vrou wil graag mnr. Masemene en sy span, asook die reaksielede van Mid Alarms en Titon Sekuriteitsdienste, bedank vir hul hulp.

• Die dief se gesig of naam mag nie gebruik word nie, omdat die vrou nie ’n saak gemaak het en hy nie aangekla en in ’n hof verskyn het nie.

Back to top button