News

Krimineel eis R6 000 by familie nadat bejaarde fietsryer verdwyn

’n Kriminele opportunis het R6 000 geëis by die vermiste bejaarde se familie.

Mnr. Marius Leon Brits is in die hospitaal nadat hy gister spoorloos op sy fiets verdwyn het tydens ’n Sondagmore fietsrit.

Daar is kort na 21:00 gisteraand laat weet dat hy self terug gekeer het huis toe, terwyl ’n soekgeselskap van sowat 80 inwoners die Dennesig Noord bosse gefynkam het, waar ’n snuffelhond glo sy spoor opgetel het.

Die soektog is deur Arthur Hill van die plaaslike Dagpatrollie van stapel gestuur nadat mnr. Brits nooit terug gekeer het huis toe nadat hy met ’n titanium bergfiets van sy huis in Dan Pienaarstraat af weg is nie.

Kanonkop en Dennesig is eers straat vir straat nagegaan voordat die soektog uitgebrei het na Mineralia, die Tarries fietsbaan, Groenkol en ander oop velde.
Toe dit donker word het vrywilligers infrarooi- en nagvisie tegnologie ingespan om na hom te soek.

Volgens mnr. Hill wat mnr. Brits by sy huis besoek het voordat hy gisteraand hospitaal toe geneem is, was hy wel naby die Middelburg Mall opgemerk.
Mnr. Brits het tot by die N4 gery voordat hy terug gekeer het dorp toe.

Hy was baie verward en het onder meer na homself as “Gert van Bloekomsig” verwys.

Hy was ontwater en het volgens mnr. Hill verskriklik geruk, en was oortrek met ’n koue sweet voordat hy hospitaal toe geneem is.
Mnr. Brits is ’n diabeet en lae bloedsuiker het moontlik veroorsaak dat sy geheue en motoriese funksies aangetas is.

Sy dogter, Ronel Brits, het vanmore op die WhatsApp-groep wat gestig is om hom te soek, gesê dat haar pa steeds nie sy bewegings kan herroep nie en baie verward is.
“Hy onthou niks,” het sy in ’n stemboodskap gesê.

Mnr. Brits ry gereeld fiets en bly gewoonlik so uur en ’n half van die huis af weg.

’n Kriminele opportunis het sy familie geskakel en R6000 vir sy vrylating by familielede geëis.

Die man het drie maal die familie geskakel en aangedring dat die geld in ’n Capitec-rekening geplaas word.
Hy het aan die familie gesê dat mnr. Brits vasgebind in ’n motorhuis by ’n leë huis in die dorp aangehou word.

Die oproepe het juis daartoe gelei dat die Dagpatrollie en soekgeselskap by alle leë huise in Kanonkop en Dennesig na hom gesoek het.
Die polisie se berede-eenheid sou vanoggend by die soektog aangesluit het.

Die Brits familie bedank almal vir hulle omgee en moeite om te help soek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button