Vele hande help alles droogmaak
Die gesegde, “vele hande maak ligte werk” het waar geword by die SAVF Tehuis vir Bejaardes toe daar twéé keer binne ’n week water deur die tehuis gestroom het.
“Die Here was albei kere hier. Niemand is beseer nie en die bejaardes is nie getraumatiseer nie,” vertel me. Bernice du Plessis (SAVF Tehuisbestuurder) gesê.
Sy het elke personeellid en persoon wat hulle gehelp het om die massas water uit die tehuis te kry, bedank.
Op 10 Februarie laat die aand het ’n waterpyp gebars in Walter Sisulustraat en het die water binne ’n kort rukkie by die voordeur van die ouetehuis begin instroom.
Me. Du Plessis se kinders, asook haar personeel het rondgedraf om meubels uit die pad te skuif en met groot besems die water weg gelei.
“Emmanuel Ledwaba en sy span van die munisipaliteit het tot laat die aand gewerk om die pyp in die straat te herstel. Emmanuel het nog 23:30 kom kyk of alles reg is hier by ons! Hy het absoluut die ekstra myl geloop!”
Sy noem dat al die inwoners van die tehuis onbewus was van die drama.
Hulle was veral bekommerd dat die inwoners wat dimensie het, sou wakker word, omdat dit traumaties vir hulle sou wees.
Die skoonmaakspan het egter só sag gewerk, dat almal in die tehuis rustig geslaap het en van niks geweet het nie.
Net meer as ’n week later, op 18 Februarie, omstreeks 17:30 het die geweldige storm wat Middelburg getref het, ook weer die water in die tehuis laat opstoot.
“Dit het binne minute 70mm gereën. Ons stormwaterpype was nie geblok nie, maar kon eenvoudig nie die baie reënwater hanteer nie.”
CJ Uys, die tehuis se sjef, wat lid is van die Noodgroep Radiogroep Sektor 3, het dadelik die radiogroep se ondervoorsitter, Juanita Groenewald, gebel en gesê die tehuis is weer oorstroom.
Sy het op haar beurt op al die WhatsApp-groepe en op ’n oop Zello-kanaal vir hulp gevra en ook gevra dat mense masjiene moet bring om die water op te suig.
“Dit was ongelooflik. Die mense het laat op ’n Sondag net hier opgedaag en begin help. Buiten die lede van die radiogroep, het raadslede Helda de Klerk en Johan Dyason ook gehelp om die vloere droog te maak.”
• Alhoewel die mat van die tehuis se sitkamer, asook die plaveisel buite beskadig is, is daar nie ander erge skade in die tehuis nie, omdat daar so vinnig opgetree is.