Vrou wat met kar wegry steeds agter tralies
Riemtelegramme dat Carmen-Leigh White-Sharpley uit is op borg, is onwaar.

Carmen is Vrydagaand saam met haar vriend by ’n woonstel in eMalahleni gearresteer nadat mnr. Kobus van Staden se kar verlede Woensdag in Middelburg gesteel is.
Daar was CCTV-videomateriaal wat gewys het hoe sy kort voor 03:00 die motorhuis by Moddercourt Woonstelle oopsluit, artikels in die kattebak laai en met die voertuig wegry.
Die polisie het haar vriend Saterdag laat gaan, omdat hy nie positief verbind word met die diefstal van die voertuig, skootrekenaar, selfoon, beursie en huissleutels van mnr. Van Staden nie.
Daar is navraag gedoen by die Witbank Polisie en Monica Nyuswa (Mpumalanga mediapersoon, Nasionale Vervolgingsgesag) wat beide bevestig het dat Carmen nie uit is op borg nie.
Sy het Maandag in die Witbank Landdroshof verskyn op ’n klagte van besit van ’n gesteelde voertuig en bly in aanhouding tot haar volgende verskyning op 11 Maart, waar sy formeel vir borg sal aansoek doen.
• Carmen sal later eers op die kardiefstalsaak self in die Middelburg Landdroshof verskyn.
• Mnr. Van Staden het twee weke voor die diefstal vir Carmen van die straat af gehaal om haar te help. Die aand voor die kar gesteel is, het hulle stry gekry.
Die volgende oggend was hy toegesluit in die huis en was al die bogenoemde artikels weg.
• Sy dogter, Sylvia de Bruin, het van die oomblik af dat sy gehoor het haar pa se kar is gesteel, met die hulp van familie en ander bronne, speurwerk gedoen wat haar gelei het na die woonstel waar Carmen en haar vriend was.
Sylvia het die Witbank Polisie gebel, wat dadelik soontoe is en die twee gearresteer het.
• Mnr. Van Staden se selfoon is verpand, maar daar word verneem dat die polisie die selfoon reeds teruggekry het.