
’n Werknemer van Buffalo’s Pub & Grill (wat verkies om anoniem te bly) vertel dat daar vroeg Donderdagaand al “krapperigheid” tussen van die jong mans was.
’n Jong man het luidkeels opmerkings bo die musiek uitgeskree, agter die rug van ’n ouer man met ’n baard.
“Ons kon aan sy lyftaal sien dat iets gaan gebeur.”
Die volgende oomblik het die ouer man opgespring, omgedraai en met ’n bottel of glas geswaai na waar die geskree vandaan kom.
Hy het egter iemand anders agter die kop gemoker.
“Die volgende oomblik het almal aanmekaar gespring. Drie ouens het die een wat agter die kop geslaan is, getakel en hy het eintlik net onskuldig verbygeloop!”
In ’n poging om die drie aggressors van die slagoffer af te haal, het ’n Buffalo’s werknemer begin om die bakleiers een vir een van die slagoffer af te trek.
Hy het die eerste een weg geruk. Toe hy die tweede een probeer wegtrek, het die persoon omgedraai en die man só erg in die gesig geslaan, dat hy ’n ernstige oogbesering opgedoen het. Hy moet ’n oogoperasie ondergaan.
Tydens die geveg het een van die persone wat deel was van die geveg, ook ’n ernstige sny teen sy kop gedoen en is hospitaal toe geneem vir steke.
• Daar is vir die joernalis gesê dat daar nie sake by die polisie geopen is na die geveg nie.
• Een van die eienaars van Buffalo’s, Juvan van der Helm, meld dat dit die eerste insident van sy soort is by hulle. Hy noem dat ’n paar ander kuierplekke toegemaak het en dat van die jong moeilikheidmakers na hulle toe gekom het.
Hy het aangedui dit hulle besig is om die sekuriteit by die deure op te skerp.
• Dit is nie die eerste geveg waar ’n persoon ’n ernstige oogbesering opgedoen het, toe hy ’n geveg uitmekaar wou haal nie.
• In Maart 2022 is Dirk Kotze se oog byna uitgeruk toe hy ’n geveg in die parkeerarea voor Hoofkantoor wou stop.
• Op 13 November 1987 is Chris Reynierse in die gesig geslaan met ’n bierglas by die destydse JB’s (later Libra) toe hy bakleiers, wat sy vriend aangeval het, uitmekaar probeer maak het. Sy regteroog is so erg beseer, dat dit wat oor was in sy oogkas die volgende dag in die Jakaranda Hospitaal verwyder is.

Tot vandag toe weet hy nie wie het hom met ’n glas geslaan nie.
• In 2006 is Skillie van der Merwe se regteroog verwyder. Hy het bakleiers uitmekaar gehaal en is met die vuis op sy oog geslaan.
Die vuishou het sy oogbal gebars en hy het dadelik geen sig gehad nie. Vier maande later is die oog verwyder.
Hierdie saak is wel hof nie, maar die landdros het dit uit die hof gegooi, omdat dit gelyk het na ’n “kroegbakleiery”.
• Enige persoon wat meer inligting kan verskaf oor die geveg by Buffalo’s en wie die persone was wat beseer is, kan Daleen Naudé bel by 013 243 1434 of stuur ’n e-pos na daleen@mobserver.co.za.