Rou riool vervuil wéér rivier in Asaliastraat
’n Plaaslike inwoner weet nie meer waar om te kla nie, omdat ’n rioollek by Kees Taljaard Stadion al verskeie maal aangemeld is, maar die riool steeds na twee weke by die lek uitborrel af Klein Olifantsrivier toe.
Die spesifieke area waaar die lekkasie is, was al vantevore ’n probleem waaroor die Middelburg Observer veskeie maal in die verlede berig het.
Mnr. Danie van Tonder sê dat die reuk onuithoudbaar is en nadat hy die lek aan die munisipaliteit gerapporteer het, het hy ook raadslede genader vir ’n oplossing.
“Ek het dit self al seker tien maal onder die munisipaliteit se aandag gebring,” het DA raadslid Johann Dyason Maandagmore met ’n sug gesê.
Hy was die enigste raadslid wat gekla het nie, maar sy DA kollega, Helda de Klerk, ook.
Raadslid Dyason is Maandag persoonlik munisipaliteit toe waar hy antwoorde gaan soek het.
Daar is weer gesê dat ’n loodgieterspan sal gaan kyk.
Die rioollek is bykans by die nuwe rioolpyp wat onlangs met groot moeite vervang is.
Die rivier moes tydelik opgedam word, vir die spanne om die pyp onder die rivier deur te lê.
Die nuwe pyp het ’n einde gebring aan die mangat wat meer as twee maande lank rou riool die rivier ingepomp het.
Groot beplanning moes egter gedoen word, omdat daar onder die rivierbed gewerk moes word, wat die projek vertraag het.
“Nou het die lek weer net bo van die mangat, aan die oorkant van die pad ontstaan, die pyp sal waarskynlik ook in geheel vervang moet word,” sê raadslid Dyason.
Hy vermoed dat die alewige waterpyp barste regdeur die dorp, dalk die spanne ophou om die rioollek te herstel.
Munisipale woordvoerder Lerato Kgomo het nie voor druktyd op navrae gereageer nie.