News

Aantal gebrekkige dossiere wys op ernstige probleme in speurdiens

Die diepliggende probleme in die Suid-Afrikaanse Polisie se speurdiens is besig om die strafregstelsel lam te lê.

In ’n parlementêre vraag van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus aan die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, blyk dit dat meer as 1,8 miljoen strafsake sedert 2018/19 nie aangehoor en afgehandel kon word nie weens gebrekkige dossiere.

Dr. Groenewald het Vrydag op Middelburg gepraat, die berig oor sy besoek verskyn in Vrydag se uitgawe van die Middelburg Observer.

Hierdie dossiere is terugverwys na die betrokke speurders met spesifieke aanwysings vir verdere ondersoekwerk aangesien aanklaers weet dat hulle nie sukses kan behaal met swak dossiere nie.

Hiermee saam het die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, einde verlede jaar aan die polisie se parlementêre portefeuljekomitee onthul dat die polisie sedert 2016 altesame 8 400 speurders verloor het.

Die aantal speurders het van 26 000 in 2016/17 afgeneem tot slegs 17 600 in Oktober 2023. Wat die situasie vererger, is dat baie van die speurders wat verlore gaan, gesoute en ervare polisielede is wat met pensioen aftree of na die private sektor gelok word.

Hulpmiddels soos voertuie raak ook jaar na jaar skaarser met meer as ’n kwart van die voertuie in sommige provinsies wat aan speurders toegewys is, wat onbruikbaar is.

Hierdie syfers skep die volle omvang van die ernstige krisis in die land se polisie en speurdiens. Dit het ’n direkte nadelige effek op die totale strafregstelsel.

Tot in water mate misdaad buite beheer is, word onderstreep deur die land se moordsyfer. Ses jaar gelede was dit 34 per 100 000 van die bevolking. In 2022 het dit gestyg tot 36,5 en tans staan dit op 45, die tweede hoogste ter wêreld.

Die algemene misdaadsyfer styg ook toenemend en Suid-Afrika raak vinnig bekend as een van die misdadigste lande ter wêreld.

“In sulke omstandighede kan daar veral nie toegelaat word dat ’n land se speurdiens verswak soos wat die laaste jare gebeur het nie. Daar moet dringend meer speurders aangestel word en moeite moet gedoen word om ervare lede na die polisie terug te lok.

“Die antwoord wat die minister oor die aangeleentheid gee, dui bloot op die prosesse wat gevolg word en wys dat hy die erns van die situasie nie besef of wil erken nie.

“Hy noem selfs die ‘Norme en Standaarde vir die Uitvoering van Regterlike Funksies’ wat die hoofregter in 2024 gepubliseer het wat onder meer aanbeveel dat beskuldigdes ’n “reg op ’n spoedige verhoor” het en dat dossiere daarom volledig moet wees.

“Die huidige situasie laat presies die teenoorgestelde gebeur. Met meer as 1,8 miljoen dossiere wat sedert 2018 teruggestuur is vir verdere ondersoek, kan daar geen sprake van ‘spoedige verhore’ wees nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button