Bekende oud-stasiebevelvoerder oorlede
Okkie van Greunen, wat die wysheid van Salomo gehad het, is na ’n maand in die hospitaal, oorlede.
n Bekende oud-stasiebevelvoerder van Emgwenya (Waterval Boven), Okkie van Greunen (65), is Dinsdag in die Kiaat Hospitaal in Nelspruit weens orgaanversaking oorlede.
Sy dogter, Karien Pretorius, sê haar pa het op 8 Maart ’n knievervanging in die Nelspruit Medi-Kliniek gehad, waar hy tot 15 Maart behandel is. Hy het septisemie na die operasie gekry.
Daarna is hy na die M-Care rehabilitasiesentrum, waar die familie aan die einde van die maand aangedring het dat hy geskuif word na die Kiaat Hospitaal
Hulle meld dat die septisemie gelei het tot die orgaanversaking en sy afsterwe. Hy sou op 18 Mei sy 66ste verjaardag gevier het.

Mnr. Van Greunen het grootgeword en skoolgegaan op Dispatch en was vir 16 jaar die stasiebevelvoerder van Emgwenya, waar hy in 2008 afgetree het.
Hy was nie net in dié gemeenskap welbekend en geliefd nie, maar ook in die omliggende dorpe, Machadodorp en Belfast.
Sy dogters, Hanri en Karien, was in Laerskool Oosterlijn en het hul hoërskoolloopbane voltooi aan Belfast Akademie (Karien en haar gesin bly tans op Kranspoortdorp en Hanri woon in Lydenburg).

Mnr. Van Greunen se familie het hom beskryf as ’n regverdige mens.
“Hy het die wysheid van Salamo gehad en hy het altyd anders oor ’n ding gedink en gesê dat mens nie altyd emosies by ’n ding moes sit nie. Hy het altyd helder van verstand opgetree. Hy was ook ’n kompas vir baie mense.”
“Hy was daar vir mense wat swaarkry of dit nou finansieel of emosioneel was. Hy het altyd mense opgelig en hy het altyd ander mense bo homself geplaas.”
Hy word oorleef deur sy vrou, Ria, met wie hy 39 jaar getroud was, dogters Hanri van Deventer en Karien Pretorius, skoonseun Alwyn Pretorius en kleinkinders Alexander, Lienke, Lerissa, Anke en Handré.
Die begrafnis is Donderdag, 2 Mei, om 12:00 uit die NG Moedergemeente in Lydenburg.
