News

Liezle se aansteeklike lag sal altyd onthou word

Die welbekende Liezle Froneman (49) is Woensdag oorlede.

Liezle se man, Henk Froneman, sê sy het gesterf weens asma met pneunomie (longontsteking) en veelvuldige komplikasies wat tot orgaanversaking gelei het.

“Dit was bitter onverwags. Sy laat ‘n enorme leemte in almal se lewens waar sy betrokke was. Sy het ‘n aansteeklike omgee-glimlag gehad en was geliefd by almal wat haar geken het,” het mnr. Froneman vanmiddag gesê.

Sy het in 1993 aan Hoërskool Middelburg gematrikuleer en behaal ‘n doktorsgraad in Strategiese Bestuur by die Universiteit van Johannesburg (RAU).

Liezle was woonagtig in Johannesburg vanaf 1994, waarna sy in 2006 teruggekeer het Middelburg toe.

Sy was tot met haar afsterwe die direkteur van die familiebesigheid, Ulta City Middelburg.

Op die MHS Matrieks 1993 Facebookblad het boodskappe van bemoediging vir die familie ingestroom.

Haar voormalige klasmaats het haar beskryf as: “n go-getter, vuurvreter, leef voluit mens. Jy sal altyd onthou word as die vrou met die rooiste lippe, sexyste rasperstem en die hardste uit die maag uit lag. Rus sag ons liefste Lielie.”

Liezle Froneman het almal altyd laat lag.

Rdl. Elsie Vermooten onthou hoe hulle saam gekuier, gelag, geswem en gestap het.

Sy vertel hoe Liezle altyd met die gebed tydens aandete “elke keer vir God bedank het vir jou amazing ma en gevra het Hy moet na haar kyk. Nou verstaan ek hoekom.”

Rdl. Vermooten het op Facebook geskryf: “Al is jy nou by God, gaan jou lig nooit ophou straal nie. Borrelkind, jy gaan vir ewig jonk bly, ons gaan jou lag altyd hoor en altyd lief vir jou wees.”

Christel Sampson het op haar Facebookplasing gesê dat sy “sonder woorde is”.

Sy het vertel hoe sy en Liezle, wat haar niggie is, saam gedans het op “Funky Town”, Wilson toffies gekoop het en altyd gekyk het wie kan die vinnigste hardloop.

Shell Downstream Suid-Afrika het ook ‘n boodskap op Facebook geplaas.

Daarin word gesê dat Liezle ‘n integrale deel van die besigheid was, spesifiek waar dit gekom het by dienslewering in die Shell Select winkels. Hulle het ook hul meegevoel met die Froneman en Marx families betuig.

Laerskool Middelburg se netbalspelers het hierdie week rooi strikkies gedra, omdat Liezle een van hul spanmaats se tannie was. Die rooi strikkies was “vir haar rooi lippies.”

Liezle word oorleef deur haar man, Henk, kinders Timara en Marcus, haar ma, Rina Marx, broer Arno Marx en suster, Luzanne Mulder.

‘n Gedenkdiens ter viering van haar lewe word Dinsdag (30 April) om 11:00 uit die Witkerk (NG Moedergemeente) gehou.

 

 

 
Back to top button