News

HTS Middelburg seun van selfoon beroof

HTS Middelburg het veiligheidsmaatreëls in plek gesit nadat een van die leerlinge op pad na die sportgronde beroof is.

Die Hoër Tegniese Skool Middelburg se hoof, mnr. Hoppie van Jaarsveld, het die week weer ’n beroep op ouers gedoen om hul kinders sover moontlik uit die strate na skoolure te hou, nadat ’n leerling van die skool verlede week in ’n gewapende roof geteiken is.

Mnr. Van Jaarsveld sê dat die skool vervoerdienste bied na die skool se hokkievelde, reg langs Middelburg Primary, nadat ’n skooldogter ook ’n ruk gelede by die sirkel in John Magagulastraat, digby waar die roof ook plaasgevind het, raakgery is.

Hy benadruk egter dat “dit die kinders is, wie se ouers nie van skoolvervoer gebruik maak nie, en dus moet stap, waaroor ons baie bekommerd is.”

Mnr. Van Jaarsveld sê die skool bied ’n veilige hawe vir leerlinge gedurende skoolure, maar dat kinders se bewegings ná skool, hulle teikens maak.

Die seun is verlede week deur rowers voorgekeer en met wapens gedreig.
Volgens ’n bron was ’n mes en pistool betrokke.

Die seun is van sy selfoon beroof en is gelukkig nie beseer nie.

Skole besef die strate is nie meer veilig vir leerlinge nie, en mnr. Van Jaarsveld sê dat hulle gereeld met die kinders tydens skoolure gesels oor die gevare.
“Daar is egter enkeles wat nie skoolvervoer kan bekostig nie, of wie se ouers nie by die werk kan wegkom nie, waaroor ons veral besorg is,” sê hy.

Volgens mnr. Van Jaarsveld word leerlinge ook gereeld gewaarsku om eerder hulle selfone en ander items wat hulle roofteikens maak, weg te bêre as daar in die straat gestap word.

“Dis oral onveilig, en ons reik gewoonlik waarskuwings uit van die misdaad, soos by die Tarries-fietsrybaan, dat hulle bewus gemaak word,” sê mnr. Van Jaarsveld.

• Die seun se ouers wou nie kommentaar lewer nie.

 
Back to top button