News

Swarts vind sy vlerke in die Laeveld

Laerskool Laeveld se jong rugbyspannetjie gaan nog groot hoogtes bereik onder die afrigting van Gerhard Swarts, wat nou ’n onderwyser is aan dié skool.

En hy maak reeds ’n verskil, met talle ouers wat reeds boodskappe van waardering vir hom gestuur het.

Een ma het gesê dat hy as onderwyser nie besef wat die waarde is van sy positiewe invloed op haar kind nie.
“My kind voel weer hy is goed genoeg. Hy het vir ’n rukkie geglo hy is nie ’n goeie rugbyspeler nie.”

Dié tweede spannetjie gaan beslis baat vind uit dié oud-Middelburger se ervaring. Hy het as tegniese adviseur gedien vir spanne soos die Harlequins-klub, Hoërskool Waterkloof, Kemptonpark se Valke, Tukkies en die SWD Arende.

Gerhard Swarts (heel links) en die ander twee afrigters, Gustaf Engelbrecht en Devon du Plessis saam met die tweedespan wat Swarts afrig.

Sy hart vir ander en veral kinders, kom uit sy eie lewe, waar hy deur die jare al hard geslaan is en elke keer weer uit die donker put moes kom.

In 1998 is sy pa in ’n motorongeluk oorlede. Hy het op laerskool drie van sy vingers verloor, nadat ’n juffrou per ongeluk ’n klapper in plaas van ’n rookfakkel vir hom gegee het.

Drie jaar later breek hy sy nek nadat hy vir Hoërskool Kanonkop se o/15A span uitdraf.

In 2020 verloor hy sy werk as tegniese adviseur nadat die Valke gelikwideer is, en hy is deur ’n vernietigende egskeiding wat hom alles gekos het.

Swarts het met niks van George af terug huistoe gekeer – sonder werk, sonder heenkome of ’n sin van waarde en met geweldige depressie. Maar hy het weer uit die as uit opgestaan.

Die verlamming het nooit sy passie vir rugby gedemp nie.

Swarts vertel dat sy loopbaan as tegniese adviseur vorm aangeneem het tydens sy studentejare by die Universiteit van Pretoria.
Terwyl hy sy honneurs in Sport en Rekreasiebestuur gestudeer het, het hy besluit om die Universiteit se o/20 span af te rig.

Hy en ’n mede-student, Emile Gouws, se span was tussen 2012 en 2013 ligawenners. “Dit was ’n wonderlike ervaring om te sien dat die spelers goed doen en goed lyk. Dit het vir my nog altyd gegaan oor die spelers. ”

Daarna het Gerhard by die Harlequins-klub se eerstespan, Hoërskool Waterkloof se eerstespan, en toe die Valke as tegniese adviseur gedien.

Na die Valke se likwidasie het Gerhard ’n kontrak met Tukkies se Varsity Bekerspan geteken en hy is tans nog betrokke by die SWD Arende tot die Curriebeker afgehandel is.

“Na my egskeiding het ek teruggekeer Middelburg toe waar ek tydelik gehelp het met Hoërskool Middelburg se eerstespan, en dis daar waar ek besef het dat dit is waarvoor ek bedoel is.”

Toe Laerskool Laeveld vir hom ’n pos aanbied, het hy nie twee keer gedink nie en sedert die begin van die jaar gee hy vir die graad viers natuurwetenskap, tegnologie en lewensvaardighede.

Hy en ’n kollega, Gustav Engelbrecht, rig ook die skool se tweedespan af.

“Ek geniet my werk verskriklik baie. Dit is vir my lekker om elke dag ’n glimlag op die leerders se gesigte te sien, en hulle het my vinnig aanvaar. Die skool het ook uit hulle pad gegaan om die fasiliteite meer toeganklik te maak, en dis iets wat my eie skool nie eers vir my gedoen het nie. Dis iets waarop ek baie klem wil plaas.”

Swarts vertel dat sy wyse van afrigting baie anders is en dat sy siening hoofsaaklik komponente soos motivering insluit.

“Ek glo daaraan om die spelers se vertroue te wen en as jy slim rugby speel, het jy nie die grootste en die sterkste spelers nodig nie.”

Hy maak gebruik van videosessies, en die ontleding van hulle opposisie gee sy span ’n voorsprong.

“Ons kry ook baie positiewe terugvoer van die ouers af en die ontvangs wat ek by die skool en die kinders gevind het, was baie opbouend. My selfbeeld is opgebou en ek het weer waarde gevind.”

* Hy wil graag die skool bedank wat die terrein meer toeganklik gemaak het vir sy rolstoel deur oral opritte aan te bring.

Gerhard Swarts is dankbaar vir die opritte wat die skool gebou het om dit meer toeganklik vir hom te maak. In die agtergrond is die hoof, mnr. Niel Jacobs.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button