Man sien hoe voetganger onder trokwiele beland
’n Ooggetuie van die gebeure gister waar ’n voetganger deur ’n vragmotork doodgery is, sê die trokdrywer was beslis nie skuldig nie.
Mnr. Hannes Schoeman, wat by die verkeerslig gestaan en wag het, het die hele ongeluk gesien waar ‘n vragmotor ‘n voetganger doodgery het.
“Hy was besig om stadig links te draai in Samora Machelstraat. Sy oë was op ons voertuie om seker te maak hy draai kort genoeg om ons nie te stamp nie, toe die voetganger aangestap gekom het. Dit het gelyk of hy teen die trok se deur wou slaan, maar hy is tussen die trok se modderskerm en die voorwiel ingetrek,” het mnr. Schoeman gesê.
Mnr. Schoeman wat ook in die vragmotorbedryf is, meld dat daardie gedeelte ’n blindekol is vir die trokdrywer en dat hy beslis nié die voetganger kon gesien wat direk na die trok aangeloop gekom het nie.
“Ek het aanmekaar begin toeter blaas nadat hy hom doodgery het, waarop hy net klaar gedraai en dadelik gestop het. Hy het nie geweet dat hy hom raakgery het nie. Met so ’n groot trok sal jy nie eers voel jy ry oor iemand nie. Sou jy wel iets voel, sal jy waarskynlik dink jy het terwyl jy gedraai het, moontlik oor die sypaadjie gery.”
Mnr. Schoeman het omstreeks 11:45 van Aerorand se kant af, afgery in Samora Machelstraat en gestop by die verkeerslig op die hoek van Samora Machel- en Cowen Ntulistraat, omdat die lig rooi was.
“Die stoplyn is ’n entjie terug op die pad, aangesien daar spasie moet wees vir trokke om te draai. Dit is presies waar ek gestaan het toe dit gebeur het. Ek kon dus presies sien wat gebeur en die vragmotordrywer is heeltemal onskuldig.”
• Die trok se wiel het oor die onbekende man se middellyf en kop gery en is hy kort daarna dood verklaar. Die pad was vir sowat ’n uur gesluit, terwyl die polisie en forensiese span besig was met hul ondersoek.
• Dit blyk dat dit ’n hawelose man was en het daar nog nie van sy familie na vore gekom om hom uit te ken nie.
• ’n Persoon (wat anoniem wil bly), is kort na die ongeluk daar verby en het genoem dat daar vyf leë bottels alkohol in ’n sak gekry is, wat by die oorledene was.
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/06/05/pedestrian-hit-by-truck-killed/
