News

OPVOLG: Koekeloerder en rekenaardief moontlik ook in Balmoral by diefstalle betrokke

In beide die bakkie inbrake is skootrekenaars uit die voertuie gesteel.

Die man wat die week op CCTV kamera vasgevang is waar hy by ’n plaaslike laerskool in klaskamers rondsluip en ’n skootrekenaar steel, is ook moontlik in Balmoral by diefstalle uit voertuie betrokke.

Beeldmateriaal wat Maandag tydens die man se besoek by ’n plaaslike laerskool in die klaskamers geneem is, wys hoe hy die koord van die skootrekenaar oprol waarna hy die skootrekenaar van die lessenaar afsteel en die klas met die rekenaar onder sy blou baadjie verlaat.

In ’n ander klaskamer wys beeldmateriaal hoe die man haastig die klas inkom, by die lessenaar op sy agterstewe val, opstaan, op die lessenaar rondkrap, waarna hy die klas verlaat.

Dieselfde man is Dinsdag ook by die Hoër Tegniese Skool Middelburg opgemerk, maar die skool glo daar was te veel beweging op die skoolterrein, en in die klaskamers, wat die man afgeskrik het.

Dit het intussen aan die lig gekom dat dieselfde man ook Maandag, nadat hy by die laerskool toegeslaan het, by ’n gesondheidsentrum by 10B Samora Machelstraat was.

Die man is opgemerk waar hy deur vensters by verskeie besighede in die sentrum, waar Willow Way Fitness onder meer geleë is, deurloer.

Toe CCTV materiaal nagegaan is, is gesien hoe die man inry met ’n silwer VW voertuig, wat ook by die alerskool op beeldmateriaal gesien kon word tydens die diefstal.

Kort nadat die Middelburg Observer gister ’n aanlynberig met videomateriaal van die laerskool diefstal geplaas het, het ’n bekende restaurant in Balmoral die koerant geskakel met nuus dat dit moontlik dieselfde man is wat op 28 Mei buite die restaurant oprmemerk is, waar hy by Hilux en Fortuner bakkies buite die restaurant ingebreek het.

In beide die bakkie inbrake is skootrekenaars uit die voertuie gesteel.

Dieselfde silwer VW voertuig kan ook in die restaurant se parkeerterrein gesien word.

Daar is intussen vasgestel dat die GP nommerplate wat op kringkamera by die laerskool opgeneem is, vervalste plate is.

By die plaaslike gesondheidsentrum moes die man, soos in HTS se geval, leë hande wegloop.

’n Bron by die sentrum sê dat daar ook te veel beweging daar was, en die feit dat die koffiewinkel, wat moontlik die man daarheen getrek het, op die boonste verdieping van die sentrum is.

Hy is wel gesien waar hy deur verskeie vensters loer en dan wegstap.

Die restaurant in Balmoral het gesê dat hulle bereid is om alle bewyse wat daar op CCTV vasgelê is, aan die polisie te oorhandig, omdat hulle vermoed dat die man dalk by diefstalle elders ook betrokke kon wees.

  • Die restaurant het versoek om anoniem te bly, hoewel hul besonderhede reeds aan die laerskool verskaf is.

Back to top button