News

Vroue werk saam om man se kar te steel

Twee vroue het vroeër vanmiddag saamgewerk om 'n man se sleutel uit sy sak te steel en daarna ook sy kar, 'n silwer Mercedes, te steel.

Mnr. Carel van der Merwe kan steeds nie glo dat hy so maklik deur hulle uitoorlê is nie.

Hy is vanmiddag kort na 11:00 gou na Midwater Spar om kruideniersware te koop.

“Gewoonlik los ek my selfoon en beursie in my kar en haal net die kaart uit, maar vandag het ek dit gelukkig uitgehaal toe ek uitklim.”

Mnr. Van der Merwe onthou dat ‘n middeljarige vrou, in haar vroeë vyftigs,na hom toe gekom het.

Sy het vir hom gevra om iets van die rak af te haal, wat te hoog was vir haar. Daarna het sy hom uitgevra oor die prys en ander vrae oor die betrokke hondekos.

“Ek het nog gedink,: ‘haai siestog, die arme vrou. Sy is so hulpeloos.”

Hy het later op CCTV videomateriaal wat vir hom gewys is, gesien dat ‘n tweede vrou van agter af, terwyl hy met die ander een gepraat het, die sleutel uit sy sak gehaal en weg geloop het.

“Toe ek buite kom en in my sak voel vir my sleutel, het ek dadelik besef wat het gebeur. Ek het nog geprewel: ‘ag Liewe Jesus, help asseblief dat my kar nie gesteel is nie,’ maar toe ek om die hoek kyk, toe besef ek hy is gevat.”

Mnr. Van der Merwe meld dat hy nie ‘n opsporingstelsel in sy kar het nie.

“Ek het in Covidtyd my besigheid toegemaak. Ek het ook nie versekering op die voertuig gehad nie. Ek het die voertuig so mooi opgepas,” het hy moedeloos gesê.

Dit is ‘n 2005 E350 Mercedes, registrasienommer SSL609GP.

As enigiemand die voertuig opmerk, bel mnr. Van der Merwe by 064 825 1888.

 

 

 

Back to top button