News

Vrou vertel van noue ontkoming toe kar met haar en kollega op R555 rol

“Al wat ek wil sê is: bly asseblief van jou foon af op die pad,” het sy die ander bestuurder gekasty.

Die vrou wat Dinsdag saam ’n kollega ’n noue ontkoming op die Stoffbergpad gehad het, toe hul voertuig gerol het, sê sy het die padoppervlak verlaat omdat ’n silwer voertuig op pad na Middelburg, skielik in hul baan ingeswaai het.

Sy sê sy kon sien die bestuurder van die aankomende voertuig se kop is na onder gebuig en vermoed die persoon was op ’n selfoon besig.

Die vrou, wat anoniem wil bly, sê sy en haar kollega was onderweg na Stoffberg vir besigheid, toe die aankomende voertuig voor hulle beland het.

Om ’n trompop botsing te vermy, het sy uitgeswaai en hul voertuig het gerol.

Sy sê hulle het teen sowat 100km/ph uur gery tydens die voorval.

Die vrou het weens die hoë padskouers beheer oor die voertuig verloor.

Nadat sy links van die pad af geswenk het, het sy egter ’n betondrein voor hulle gewaar en toe die stuurwiel regs gedraai, waarna die voertuig begin rol het.

Sy sê dat sy weens vroeëre bestuuropleiding, wat deur haar maatskappy aangebied is, ook toe die stuurwiel gelos het om verdere gevaar te verhoed.

Die voertuig het toe verskeie maal gerol en die vrou sê dat as hulle nie veiligheidsgordels gedra het nie, beide sy en haar kollega, nie so gelukkig daarvan sou afgekom het nie.

Die bestuurder van die silwer voertuig het bloot aangehou ry.

’n Plaaswerker, wat op die landerye langs die toneel besig was, het na die plaashuis gehardloop waar ’n vrou in die kombuis besig was, en het die vrou haar en haar kollega te hulp gesnel.

Haar besigheidskollegas en base was ook spoedig op die toneel en weens die maatskappy se veiligheidsetos, kon hulle noodbehandeling toepas voordat die ambulanse opgedaag het.

Beide is deur ER24 Ambulansdienste Life Midmed Hospitaal toe vervoer.

“God het ons beskerm,” sê die vrou en las by dat sy en haar kollega lyfseer is “met pers en swart kolle” reg oor hul lywe.

“Nie een van ons het iets gebreek nie, maar ons altwee het bietjie harsingskudding na die rol” sê sy.

Sy bedank haar maatskappy en kollegas van Elite Training, vir die vroeëre bestuuropleiding, en hulp op die toneel.

Die duo bedank ook ER24, Life Midmed, die insleepdienste en ander hulpverleners op die toneel.

“Al wat ek wil sê is: bly asseblief van jou foon af op die pad,” het sy die ander bestuurder gekasty.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button