Bekende sakeman sterf in ongeluk, lewensmaat ernstig beseer
'n Bekende sakeman van Middelburg is dood en sy lewensmaat ernstig beseer in 'n ongeluk naby Bronkhorstspruit.

PJ Naudé (50) is op die toneel dood en sy lewensmaat, Dirkie du Plessis (54), ernstig beseer in ‘n ongeluk Donderdagmiddag op pad terug vanaf Pretoria, waar hulle by ‘n veiling was.
Familie het teen 16:00 begin bekommerd raak omdat hulle nog nie tuis was nie en het hulle aanmekaar na hul selfone toe gebel.
‘n Man het die selfoon geantwoord en hulle meegedeel dat daar ‘n ongeluk naby Bronkhorstspruit was en dat ‘n ambulans met Dirkie op pad is na die Mamelodi Streekhospitaal.
Die familie het navraag gedoen oor PJ se toestand, maar die persoon wou nie verdere inligting bekend maak nie.
Sy ouers, Piet en Bets Naudé, het besluit om na die toneel te ry, maar op pad soontoe het die hoof van die Bronkhorstspruit forensiese afdeling hulle gekontak en die hartseer nuus meegedeel dat hy oorlede is.
Dirkie was vir twee dae in die Mamelodi Hospitaal, waarna sy vanoggend in die vroeë oggendure oorgeplaas is na die Steve Biko Hospitaal.
Haar broer, Naudé, het gemeld dat haar toestand kritiek is.
- PJ was die eienaar van Fastline, ‘n auto-elektriese besigheid. Dirkie was sy regterhand, wat al die administratiewe werk hanteer het.
- Die presiese omstandighede van die ongeluk is nog nie bekend nie. Daar word vermoed dat hy ‘n hartaanval of beroerte gekry het en daarna in ‘n minibus, wat stilgestaan het, vasgery het.
- Die familie sal eers na die langnaweek kan begin met reëlings vir die roudiens.
- ‘n Volledige huldeblyk oor PJ sal in volgende week se Middelburg Observer verskyn.
