NewsSport

Die president, die wêreldbeker wenner en die kopdokter

Toe John Smit die wêreldbeker trofee in 2007 omhoog gelig het, was die Bulle se afrigter, Jake White, én Gericke deel van die wenspan.

Vergeet van ‘n volgepakte Loftus Versfeld ‘n wêreldbeker wenner afrigter en die berugte hoëveldse lugdruk. Die Bulle se “speler 24“ is ‘n man wat agter die skerms stil-stil kan sorg dat die Verenigde Rugby Kampioenskap-trofee Pretoria toe kom, die span se kopdokter, dr Henning Gericke.

Groot gewag is die afgelope week gemaak van Franco Smith, die Glasgow Warriors afrigter, wat al die Varsitybeker én die Curriebeker gewen het en sy internasionale blootstelling as afrigter van Italië vanaf 2019 tot 2022.

Maar wat van ‘n wêreldbeker  én ‘n Curriebeker?

En dalk nou die gesogte VRK-trofee.

Toe John Smit die wêreldbeker trofee in 2007 omhoog gelig het, was die Bulle se afrigter, Jake White, én Gericke deel van die wenspan.

Maar die byna volmaakte sirkel van White, Gericke en Strauss begin al lank-lank gelede.

John Smit en Jake White, 2007.
Photo: Tertius Pickard. Gallo Images.

Om die waarheid te sê, in die beskeie sement stadion op die destydse Witbank, die Johan van Riebeeck-stadion, waar Suidoos-Transvaal Rugby-unie se hoofkwartier was.

Willem Strauss, die Bulle se huidige president, was ‘n jong en dinamiese bestuurder van Suidoos-Transvaal   Rugby-unie. Hy is aangestel as een van die jongste besturders in wêreld rugby op 25-jarige ouderdom.

Gericke het ‘n sielkunde praktyk op Middelburg bedryf en sy eerste motiveringspraatjie was by Laerskool Dennesig waar hy die veel kleiner skooltjie  geïnspireer het om in 1994 hulle beste vertoning ooit by die jaarlikse Interlaer te lewer.

Ironies was sy tema “Dawid teen Goliat!” Dalk die rede waarom Dawid (Die onbesonge Bulle) verlede week teen Goliat (Die Ierse nasionale span, Leinster) gewen het?

Drie jaar later omtower Strauss Suidoos-Transvaal na die Pumas en twee van die provinsie se beste skoleafrigters, Poerie van Rooyen en Chris Grobler, word as afrigters aangestel. Van Rooyen sou later die Suid-Afrikaanse skolespan afrig en Grobler, wat ‘n wiskunde onderwyser was, verruil die witkryt vir die afrigters fluitjie en word die Pumas se voltydse breier.

Strauss het altyd vernuwend gedink en toe hy hoor van die sielkundige wat self op sy dag een van die beste junior middelafstand atlete in die wêreld was en spog met 10 sub vier minuut myle, het hy hom in 1997 as die Pumas se kopdokter betrek.

Blou Bulle unie president Willem Strauss.

Naas Botha het op ‘n dag toe ‘n joernalis vir hom vra waarom is hy so entoesiasties voor en tydens oefeninge teruggekap: “Hoe kom jy by die werk aan?”

Gericke bring daardie selfde entoesiasme na die Pumas en hulle behaal byna onmiddellik sukses en wen die Sailbeker teen ‘n sterbelaaide Blou Bulle span in Port Elizabeth.

Die twee se paaie skei toe Strauss na Pretoria verhuis en by die Blou Bulle Rugby-unie betrokke raak.

Maar die lewe loop snaakse draaie.

Gericke is by die Haaie toe hulle in 2008 die Curriebeker wen, die Suid-Afrikaanse swemspan na die Olimpiese Spele in 2012, Protea netbalspan 2018, Bafana Bafana tydens die 2010 wêreldbeker en toe die Westelike Provinsie in 2014 die Curriebeker wen.

Hy speel ook ‘n groot rol in die Olimpiese swemmer, Cameron van den Burgh, se loopbaan.

In 2020 kruis Gericke se pad weer met White en Strauss.

Een van die eerste aanstellings wat die nuwe Bulle afrigter maak was om sy wêreldbeker wenner kopdokter te betrek. Die kopdokter wat op sy dag saam met Uli Schmidt vir Noord-Transvaal se laerskole Cravenweek span uitgedraf het, ‘n Bul in murg en been.

Soos altyd trek Strauss die toutjies agter die skerms om die Bulle weer ‘n krag te maak.

Die driemanskap van Strauss, White en Gericke wen twee Curriebekers teen die Haaie, die Suid-Afrikaanse skild, speel in die Rainbow en Vodacom VRK eindstryde en nou wag die groot een, op Loftus, voor  duisende fanatiese ondersteuners in blou en in sommige gevalle bulhorings op die kop…

Gericke speel ‘n reuse rol in die loopbaan van die jong Cameron Hanekom word daar in die wandelgange van Loftus vertel.

Wanneer die fluitjie om 18:00 more blaas en Pretoria tot stilstand, sal die Bulle reg wees, nie net fisies nie, “maar ook in die kop”.

Hoe dan anders as met speler 24 in die pawiljoen, die wêreldbeker kopdokter…

Back to top button